’n Vlaag skietvoorvalle wat die naweek oor die land plaasgevind het, het verskeie mense dood en beseer gelaat.
Op die toneel van ‘n skietery in Lenasia in Johannesburg, waarin vyf mense in die informele nedersetting Thembelihle gesterf het, het Elias Mawela, polisiekommissaris van Gauteng, dit beskryf as “nog ‘n verskriklike, verskriklike misdaadtoneel”.
Die polisie het vier liggame uitgeken. Nog twee mense is beseer en hospitaal toe geneem. Die voorval het omstreeks 19:30 gebeur.
“Hierdie mense, hulle het om die vuur gesit en toe is hulle van daardie punt af aangeval,” het Mawela gesê.
“Twee is daar op die hoek dood, nog een het langs die straat gesterf. Die vierde liggaam is in ‘n ander blok. Ons weet nie hoe dit gebeur het nie – of daardie persoon deel was van hierdie groep, of hy is deur daardie aanvallers gevind toe hulle van die misdaadtoneel wegbeweeg het.”
In ‘n mediaverklaring op Sondag 17 Julie het die kantoor van die provinsiale polisiekommissaris in Gauteng gesê mense in die groep het dobbelsteen gespeel op ‘n straathoek in Thembelihle toe hulle aangeval is. Die aanvallers bly onbekend.
In ‘n klaarblyklik aparte voorval in Thembelihle is ‘n 36-jarige man van sy besittings, insluitend ‘n selfoon en fiets, beroof en doodgeskiet.
“Vyf sake van moord en twee van poging tot moord is vir ondersoek geopen,” het die kommissaris se kantoor gesê.
Twee dae vroeër, op Donderdag 14 Julie, is vyf mense op verskillende plekke in die Alexandra-township in Johannesburg noodlottig geskiet en vyf beseer.
Die skietvoorvalle is na bewering gepleeg deur vier gewapende verdagtes wat deur die gebied beweeg en mense beroof en geskiet het.
Die kantoor van die Gautengse provinsiale kommissaris het bevestig vyf sake van moord en vyf van poging tot moord is geopen, asook sake van gewapende roof wat met die Alexandra-voorval verband hou.
Khayelitsha-moorde
Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die moord op drie mans – onderskeidelik 34, 36 en 50 – Saterdagaand in Khayelitsha.
Die voorval het omstreeks 20:30 op die hoek van Nyebelele- en Ntangostraat in Terrein C plaasgevind, volgens die kantoor van die provinsiale kommissaris.
“In hierdie stadium is dit nog nie duidelik wat tot die aanval op die slagoffers gelei het nie,” lui ‘n polisieverklaring.
Hulle het ‘n blou Hyundai-sedan bestuur toe hulle deur insittendes van ‘n wit Volkswagen Polo aangeval is. Die verdagtes het van die toneel gevlug.
Een slagoffer is op die toneel dood terwyl die ander later in die hospitaal gesterf het.
Volgens die polisie is daar rede om te glo dat laasgenoemde voorval met dwelmhandel in die gebied verbind word.
Op Citrusdal in die Cederberge het kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, gesê drie mans is in ‘n informele woning doodgeskiet.
“In die vroeë oggendure van (Saterdag) is die drie slagoffers, wat vermoedelik almal Lesotho-burgers is, by hul informele woning in Riverview doodgeskiet. Daar word vermoed dat ‘n vierde man ook ‘n skietwond opgedoen het, maar hy kon daarin slaag om te ontkom. Hierdie slagoffer moet nog opgespoor word. Die verdagte of verdagtes het van die toneel gevlug en moet nog in hegtenis geneem word. Die motief vir die moorde is nog nie vasgestel nie,” het Traut gesê.
In ‘n onverwante voorval, het Traut gesê, is twee mans in hul dertigs Saterdag omstreeks 21:35 in Tutulaan, Makhaza, in Harare-township doodgeskiet.
Bronne: Cape Times, IOL, Daily Maverick
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Taverne-skietery: EFF vrees ‘terrorisme’ was ‘n faktor



