‘n Kind het sy lewe deur verdrinking verloor nadat hy tydens ‘n dagbesoek by die Skukuza-kamp van die Krugerwildtuin in ‘n swembad gespring het.
Die voorval het Saterdag laatmiddag plaasgevind, het Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke) gesê.
Die negejarige seuntjie was ‘n dagbesoeker by die Skukuza-kamp. Volgens verslae van die sekuriteitsbeampte het hy die seun se liggaam in die swembad sien dryf terwyl hy sy patrollies gedoen het.
“Hy het in die swembad gespring, hom uitgetrek en KPR uitgevoer terwyl hy vir mediese hulp gewag het,” het SANParke-woordvoerder Ike Phaahla gesê.
Die seuntjie is ongelukkig deur die Skukuza- inwonende dokter, wat na die toneel ontbied is, dood verklaar, het Phaahla gesê.
“Berigte dui daarop dat die oorledene saam met sy familie op besoek aan die Krugerwildtuin ten tyde van die voorval was,” het Ike Phaahla gesê. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is in kennis gestel.
Die polisie se forensiese span het die seun se liggaam verwyder nadat hulle die nodige bewyse op die toneel ingesamel het.
“’n Geregtelike doodsondersoekdossier is deur die polisie geopen en die resultate van die ondersoek sal mettertyd aan die naasbestaandes gekommunikeer word.”
SANParke se bestuur het hul innige meegevoel aan die familie van die seun oorgedra. Die naam van die familielede en die oorledene word vir privaatheidsdoeleindes weerhou.
Bronne: MSN, The South African, SA People
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Man los seun by dagsorg na vaderskaptoets wys hy is nie die pa nie



