‘n Moordverdagte wat probeer het om sy inhegtenisneming te ontduik, het ‘n speurder van Brighton Beach in Durban met ‘n mes gesteek voordat hy sy balans verloor en na sy dood geval het.
Pieter Dijzel het 16 verdiepings ver uit ‘n Amanzimtoti-woonstelblok geval.
Dijzel, wat sedert Mei 2020 vir moord en poging tot moord in Hillcrest gesoek word, het in ‘n woonstel in Beachweg in Amanzimtoti weggekruip.
Kapt. Brad Varley het Saterdag omstreeks 18:00 saam met twee plaaslike beamptes na die woonstel gegaan waar Dijzel op die 17de verdieping was.
Nadat hulle hom opgespoor het, het die polisie aan hom verduidelik dat hy in hegtenis geneem word vir moord.
Volgens Varley het hy gewelddadig begin raak en ‘n struweling het ontstaan tussen een van die beamptes en Dijzel. Een van die beamptes is tydens die struweling met ‘n mes in die voorarm gesteek.
“Die beamptes kon nie daarin slaag om Dijzel te boei nie. Hy was net te sterk. Ek het met hom baklei tot in die slaapkamer waarna ons deur die radiobeheer hulp ontbied het.”
Dijzel het weggekom en na ‘n slaapkamer ontsnap waar hy homself toegesluit het.
“Terwyl ek gewag het, het ek deur die slaapkamerdeur met hom probeer praat om homself oor te gee. Daar was geen antwoord nie.”
Ná geen reaksie van Dijzel nie, het Varley by die kamer ingebreek, maar daar was niemand nie.

“Dijzel het by die slaapkamervenster randlangs beweeg na ‘n woonstel op die 16de verdieping.
Hy het aan die venster geskop en die inwoners gevra om dit oop te maak en hom in te laat.
“Ons vermoed hy het sy balans verloor en hy het deur die dak van ‘n grondvlak geval,” sê Varley.
Dijzel is op die toneel dood verklaar.



