‘Dankie, dankie, dankie,’ sê Marno se ma na wonderwerk-herstel

Deel hierdie storie / Share this story

“Ek is so dankbaar. Dankbaar vir elke lid, elke donasie, elke gebed, elke sent wat ingesamel is,” vertel Helga Muller, Marno se ma, waar sy en Marno nou tuis is na sy ongeluk.

Sy vertel haar kind is ‘n wonderwerk, en dat die Here hom uit die dood uit opgewek het.

“Dit gaan goed met hom. Hy sukkel nog om trappies te klim, maar hy is ‘n slim kind. Hy is so ougat,” vertel sy. Helga vertel dit blyk vir haar asof Marno bewus is daarvan dat daar iets met hom gebeur het. “Hy is bang vir trappies en baadjies met ritse en enigiemand wat ‘n uniform aanhet soos ‘n suster of ‘n dokter.”

Die vyfjarige Marno Muller was vir langer as drie weke in die intensiewesorgeenheid in die hospitaal opgeneem na hy by die skool aan sy baadjies se toutjies gewurg het. Hy was vir twee dae in die hospitaal se gewone saal.

“Ek het hom nou die dag daar na die hospitaal toe geneem waar hulle hom ingejaag het toe hy geen pols, geen hartklop, geen asemhaling gehad het nie,” onthou sy emosioneel. “Ek wou vir hulle gaan wys hoe lyk ‘n wonderwerk van God. Die Here het hom uit die dood opgewek.”

Sy sê sy wil spesiaal dankie sê aan Hemelse Pêrels NPC en Angels Who Care, die twee organisasies wat betrokke was. “Ek gee hulle al die lof en eer. Marno is die eerste kind in Suid-Afrika wat so gou in soveel mense se harte gekruip het. Die Here het ‘n plan met hom.”

Sy vertel Hemelse Pêrels NPC het ‘n totaal van R420 000 ingesamel om Marno se hospitaalkoste, neuroloë en spesialiste te betaal. Sy vertel ook nie ‘n sent van dié geld is in haar eie rekening inbetaal nie. “Al die geld is direk aan die hospitaal oorbetaal.”

Nadia Minnie, Helga se suster, help ook met die geld wat deur strikkies en bandjies vir Marno ingesamel is, om vir goed soos bloedtoetse te betaal.

Marno gaan vandag vir sy eerste arbeidsterapiesessie en ‘n IK-toets, Dinsdag gaan sien hy die dokter by die Garden City-hospitaal vir sy eerste opvolg, op 25 Julie gaan hy vir spraakterapie. Maar dit gaan baie goed met hom! Hy versterk elke dag.”

Intussen het Helga Muller Mike Bolhuis van Spesiale Ondersoeke aangestel om te assisteer met die algehele aangeleentheid.

Hou FiND iT dop vir meer hieroor.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.