Derek Chauvin, voormalige polisiebeampte van Minneapolis, is tot meer as 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die skending van George Floyd se burgerregte.
Chauvin (46) het in Desember skuldig gepleit op die afsonderlike federale burgerregte-aanklagte. Hy dien reeds 22 jaar tronkstraf uit vir die moord op George Floyd terwyl hy aan diens was.
Die twee vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en Chauvin sal nou na ‘n federale tronk geskuif word. Maar hy sal byna seker meer tyd agter tralies moet deurbring ná die vonnisoplegging.
Sy vonnis sal gevolg word deur vyf jaar van vrylating onder toesig. “George se lewe maak saak,” het Floyd se broer, Philonese, Donderdag in die hof gesê toe hy die regter gevra het om die maksimum vonnis van 25 jaar op te lê.
Chauvin is skuldig bevind op aanklagte van moord en manslag in Minnesota nadat hy langer as nege minute op Floyd se nek gekniel het.
Die insident – vasgevang op ‘n omstander se foonkamera – het wêreldwye verontwaardiging en ‘n vlaag betogings teen rasse-ongeregtigheid en die polisie se gebruik van geweld ontketen.
Die federale aanklagte teen Chauvin het twee aanklagte ingesluit, dat hy Floyd van sy regte ontneem het deur op sy nek te kniel terwyl hy geboei was, en deur versuim om mediese sorg te verskaf tydens die arrestasie in Mei 2020.
As deel van die pleitooreenkoms het Chauvin ook skuldig gepleit op die skending van die regte van ’n destydse 14-jarige seun tydens nog ’n arrestasie wat in 2017 plaasgevind het.
Luidens die akte van beskuldiging het Chauvin die seun aan die keel vasgehou, hom met ‘n flitslig op die kop geslaan en sy knie op die seun se nek en bo-rug gehou terwyl dié geboei was en nie weerstand kon bied nie.
Aanklaers het gesê onvrygestelde kamerabeeldmateriaal wys hoe Chauvin 17 minute lank op die seun se rug kniel terwyl hy na sy ma geroep het.
Toe Chauvin skuld beken het, het aanklaers gevra dat hy sy vonnis gelyklopend met sy moordvonnis uitdien.
Hy het lewenslange tronkstraf opgelê as hy by ‘n tweede strafregtelike verhoor skuldig bevind sou word.
Sy prokureur het Donderdag in die hof ‘n vonnis van 20 jaar aangevra en gesê hy het tydens sy verhoor respek vir die regsproses getoon en loop nie die risiko om sy oortredings te herhaal nie.
Toe hy die hof toegespreek het in wat waarskynlik sy laaste regsverhoor in jare sal wees, het Chauvin gesê die regter het ‘n moeilike besluit gehad, gegewe die “polities-belaaide omgewing”, en erken dat die hof na regverdigheid streef.
Met die toespraak aan Floyd se kinders, van wie sommige in die hof teenwoordig was, het Chauvin gesê dat hy hulle “alles van die beste in hul lewe toewens” en dat hulle “uitstekende leiding het om goeie volwassenes te word”. Hy het nie om verskoning gevra nie.
“Vir jou optrede moet jy aanspreeklik gehou word,” het regter Paul Magnuson gesê voordat hy die vonnis opgelê het.
Hy het die verhoor van 35 minute afgesluit deur Chauvin “die allerbeste vir sy toekoms toe te wens”.
Bronne: BBC, NBC News, The Irish Times
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.
Lees ook: Ghislaine Maxwell appelleer teen skuldigbevinding aan sekshandel



