Die voormalige premier van Japan, Shinzo Abe, oorlede na hy geskiet is

Deel hierdie storie / Share this story

Die voormalige Japanse premier, Shinzo Abe, is dood nadat hy by ‘n veldtoggeleentheid in die stad Nara, naby Kyoto, geskiet is.

Abe (67) is Vrydag omstreeks 11:30 plaaslike tyd twee keer geskiet terwyl hy ‘n werwingstoespraak gehou het vir Kei Sato, ‘n medelid van die regerende Liberaal Demokratiese Party en ‘n nasionale verkiesingskandidaat.

Die tweede skoot het Abe in die rug getref, wat die voormalige regeringshoof op die grond laat val het.

Die Japannese brand- en rampbestuuragentskap het bevestig dat Abe ‘n skietwond aan die regterkant van sy nek en linkerbors opgedoen het. Abe is in ’n helikopter hospitaal toe gehaas.

Die Japannese premier, Fumio Kishida, het vroeër gesê Abe is in ‘n kritieke toestand.

Voormalige Toyko-goewerneur Yoichi Masuzoe het gesê Abe het ‘n hartstilstand gehad.

Tetsuya Yamagami, die 41-jarige vermeende skieter, is omstreeks 11:32 in hegtenis geneem.

Hy het nie probeer om van die toneel te vlug nie en is in hegtenis geneem op vermoede van poging tot moord, het die openbare uitsaaier, NHK, berig.

Die verdagte is by die Nara Nishi-polisiestasie ondervra. Hy was sowat drie jaar lank ‘n voormalige maritieme selfverdedigingsmaglid, tot ongeveer 2005, het NHK berig.

Volgens NHK het hy aan die polisie gesê hy is gefrustreerd met Abe en was van plan om hom dood te maak.

Bronne: Sky News, Gulf News, Newsweek

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Lees ook: Begrafnisdienseienaar erken sy het liggame wat vir verassing bedoel was, verkoop