Tweetalige woordeboek vir kinders

Deel hierdie storie / Share this story

Human & Rousseau publiseer My eerste tweetalige woordeboek/My first bilingual dictionary. Dit is ’n netjiese vertaling van die VK-Uitgewery, Miles Kelly, se My First 1000 Words.

Hierdie opwindende eerste woordeboek, ’n duursame hardebanduitgawe, beslaan 140 bladsye. Volgens die uitgewersbrief is die boek geskik vir kinders nul tot ses jaar oud. Ouer kinders sal egter ook waarde daaruit put. As volwassene het ek sommer ook ’n hele paar woorde geleer. Ek het byvoorbeeld nie geweet dat malgasse in Engels gannets is nie.

Kinders sal ure se pret hê om 1 000 woorde te soek en vind. Boonop is die kleurvolle en gedetailleerde illustrasies werklik besonders. Die tweetalige woordeboek vir kinders is in verskeie temas opgedeel wat kinders se leefwêreld en belangstelling uitbeeld. Nie net is daar huishoudelike items nie, maar ook vervoermiddels en verskillende diere. Dan is daar ook getalle, vorms en kleure, en die mens se liggaam.

My eerste tweetalige woordeboek/My first bilingual dictionary bied ’n aangename en leersame lees- en leerproses vir beide die ouer en kind. Seuns én dogters sal die inhoud relevant vind.

Skaf gerus jou kopie van hierdie tweetalige woordeboek vir kinders hier aan, of kry dit by ’n toonaangewende boekwinkel.

Lees ook Louise Viljoen se indruk oor Pikkewyn en Beer.