“Hierdie gaan nie ‘n besprekingsvergadering wees nie. Dis ‘n aksievergadering.” Só sê Tumelo Mosikare oor die Sol Plaatje Rate Payers Union-vergadering wat vanmiddag om 13:00 by die Horseshoe Motel in Kimberley plaasvind.
Mosikare is die koördineerder van die vergadering, wat uit besigheidseienaars en gemeenskapsleiers bestaan.
“Ons het op 16 Februarie ‘n vergadering gehad waar ons gepraat het oor die aksies wat ons gaan neem in verband met algemene probleme in die Sol Plaatje-munisipaliteit. Woensdag gaan ons vergader oor wat ons van hier af gaan doen.”
“Ons beplan ook om die munisipaliteit hof toe te neem oor spesifieke sake.”
Hy sê die sake wat aangespreek gaan word, is die wateronderbrekings, slaggate en elektrisiteit.
“Ons nooi alle besigheidseienaars en gemeenskapsleiers uit om die vergadering by te woon. Ons moet ophou kla en aksie neem.”



