‘Jou kop moet 100% reg wees’

Deel hierdie storie / Share this story

Die 37-jarige Cindy van Aswegen vertel sy het op 24 Januarie vanjaar net besluit genoeg is genoeg. Dat sy hierdie keer gaan deurdruk met die eetplan. Dat sy hierdie keer haar gesondheid en haar geluk eerste gaan stel.

Vandag, 26 kg ligter, vertel sy sy is nog lank nie klaar nie.

Cindy, vrou en mamma vir drie kinders van 9, 13 en 19 jaar oud, vertel hoe sy aan die begin van die jaar die besluit geneem het.

“Ek het op 24 Januarie net besluit dat ek nou op hierdie bus gaan klim. My gesondheid het agteruitgegaan, ek het rugprobleme ontwikkel en ek was net altyd moeg om altyd moeg te wees,” vertel sy. “Ek het al voorheen probeer om die eetplan te volg, maar ek het elke keer misluk. My kop is net hierdie keer 100% reg.”

“Ek het vir myself gesê dis nou of nooit. En dis ‘n baie moeilike ding, dis beslis nie maklik nie. Maar vir my selfvertroue en om net beter te voel oor myself, het ek deurgedruk.”

Van Aswegen vertel sy volg die 28 dae eetplan en het sonder om enige oefeninge te doen die 26 kg afgeskud. Die dieet bestaan uit spesifiek uitgewerkte maaltye wat jy presies moet volg. Sommige dae eet jy net vrugte vir aandete en Van Aswegen lag en sê in die winter is dit maar aaklig om vir aandete ‘n bakkie vrugte te moet eet.

Sy vertel sy is nog so 11 kg van haar doelgewig af. “En na ek my doelgewig bereik het, sal ek begin oefen en natuurlik steeds die eetplan volg. Ek kan myself nou nie indink om anders te eet nie. Ek is reeds af van al die koeldrank en soetgoed af. Ek word nou nie eers meer honger tussen etes nie.”

Sy vertel sy kon na haar tweede rondte van die 28 dae eetplan al van mense hoor dat dit lyk asof sy begin gewig verloor.

Haar mentor was Hetty Bruwer, wat ‘n volle 80 kg met die eetplan afgeskud het en nou ook ander vroue help om hul doelgewig te bereik. Lees Hetty se verhaal hier.

“Toe ek begin het, het ek die foto van tannie Hetty so bekyk. En ek het gedink as die tannie dit op haar ouderdom kon regkry, kan ek dit op my 37-jarige ouderdom ook regkry. Ek het gereeld teruggegaan en weer na die foto gaan kyk. Ek het vir myself gesê ek sal ook bereik wat sy het.”

“Ek het nooit in my wildste drome kon dink dat een mens soos tannie Hetty só baie gewig kon verloor en so mooi kan lyk nie. Die was my grootste motivering.”

Foto: Hetty Bruwer, wat 80 kg op die eetplan verloor het.

Van Aswegen vertel haar lewe het drasties verander in die ses maande wat sy nou al aan haar gewig werk. “Ek het op die oomblik soveel meer selfvertroue as wat ek toe gehad het. My man, my ouers en my kinders is ook baie trots op my.”

Lees ook Rudolph Workel, wat meer as 228 kg op die eetplan verloor het, se verhaal hier.

Haar raad aan ander dames wat ook besluit om die gewigsverlies-pad te stap, is om seker te maak “jou kop is 100% reg”.

“Niks kon my stop toe ek eers begin het nie. Ek het verjaarsdae en vakansies en allerhande versoekings weerstaan. En as die eerste drie of vier moeilike weke kom, en jy voel jy is honger en wil eerder die eetplan los, dis juis dan wat jy moet sterk wees en net deurdruk.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.