228 kg ligter: ‘Doen dit vir jouself!’

Deel hierdie storie / Share this story

Rudolph Workel (42) vertel van die dag in Augustus 2017 wat hy besluit het dat hy sy lewe wou lééf en nie wanneer sy gesin op die strand is, net op ‘n stoel sit en kyk hoe hulle die lewe geniet nie.

Workel, wat op dié dag in 2017 op sy swaarste 320 kg geweeg het, het in 18 maande ‘n verstommende 228 kg verloor.

“My troudag wat op 23 Februarie 2019 voorgelê het, was een van my grootste motiverings om gewig te verloor. Ek wou nie voor die troue ‘n spesiale pak moes laat maak nie en ek het vir myself gesê ek het twee jaar om gewig te verloor.”

Workel vertel een van die grootste plesiere wat hy ná sy gewigsverlies ervaar, is om by ‘n klerewinkel te kan instap en ‘n gewone broek of hemp van die rakke te kan afhaal.

“En ek het moeg geraak. Ek het vreeslik gesukkel met gout en my bene kon nie meer my gewig dra nie.” Workel, wat by korrektiewe dienste in Potchefstroom werk, sê hy het by die werk so seer gehad dat hy nie kon beweeg nie en eers vir ‘n inspuiting moes gaan. Sy bloeddruk was ook dié tyd meer as 200.

“My gesondheid was maar die grootste rede vir my besluit. Ek wil ouer word saam met my vrou, Jessica, wat 12 jaar jonger is as ek.”

Workel het in 2016 al van die 28 dae-eetplan gehoor en sê hy het eers besluit om daarmee vol te hou toe die dokter vir hom gesê het dat hy gewig moes verloor, anders sou hy nie die ouderdom van 45 haal nie.

Hy het die eetplan aan die begin goed gevolg, maar het ná sy eerste rondte ‘n kroek-ete geëet en hy sê dis waar hy gevou het. Toe hy egter besluit om vas te byt, het hy binne 18 maande sy doelgewig bereik. Workel het ook glad nie in dié 18 maande geoefen nie, maar het wel ‘n jaar en ‘n half gelede begin gym.

“Dit speel met mens se kop! Ek het goed begin doen soos kleiner borde gebruik sodat my kos meer moet lyk. En byvoorbeeld ‘n klein lepel gebruik om te eet, dan eet ‘n mens stadiger en raak vinniger vol!”

Workel het 92 kg op sy troudag in 2019 geweeg, maar toe hy vir toetse gegaan het, het die dokter vir hom gesê hy is ondergewig en dat hy in ag moet neem dat hy ongeveer 12 kg se los vel het ná die gewigsverlies.

Hy sê hy beplan beslis om later ‘n operasie te ondergaan om van dié los velle ontslae te raak, maar sê hy het redelik goeie motivering van spesialiste nodig om dit moontlik te maak en dat dit nogal lank uitgerek kan word.

Workel weeg op die oomblik 115 kg en sê sy doelgewig is 100 kg.

Hy beplan ook om oor drie jaar sy eerste kragmankompetisie te doen.

Workel sê hy was op skool nooit werklik oorgewig nie. “Ek was groot gebou, maar ek was nooit vet nie. Ek het rugby gespeel en toe ek in matriek ‘n rugbesering opdoen en ek nie meer kon oefen nie, het ek aanhou eet soos wat ek geëet het toe ek rugby gespeel het. Omdat ek toe ook nie meer so aktief was nie, het ek begin gewig optel.”

Hy sê hy sou normaalweg twee groot Roman’s-pizzas, twee Whopper-burgers van Burger King, ‘n Streetwise 5 van KFC en die burger wat daarmee saamgekom het eet en twee tot drie liter Coke per dag drink.

Workel vertel hy het ‘n ongelooflike ondersteuningstelsel en sê as dit nie vir sy familie, vriende en sy vrou was nie, sou hy dit nie gemaak het nie. “Dit was maar moeilik aan die begin wanneer vriende my byvoorbeeld vir ‘n braai genooi het, almal om my hulle vleis geëet het en ek eier en sampioen moes eet,” lag hy. “Maar toe ek na die derde of vierde maand begin resultate sien en vir myself begin goed lyk, het dit my gemotiveer. Ek wou nie opgee en al my harde werk in die water gooi nie. Hoe meer ek verloor het, hoe meer wou ek verloor.”

Hy sê hy het nou ‘n gesonder verhouding met kos en waar hy normaalweg ‘n blikkie kos sou koop omdat dit vir hom lekker was, kyk hy nou eerder na die inhoud en na hoeveel kalorieë of hoeveel suiker produkte bevat voor hy dit in sy waentjie pak. “Ek probeer maar net ‘n gesonder keuse maak en hoender sonder vel, maalvleis sonder vet, meer slaai of bruinrys kies.”

Workel sê sy raad aan ander wat ook gewig wil verloor, sal wees om dit vir hulself te doen.

“Vra jouself af of jy vir die res van jou lewe op ‘n stoel wil sit. Doen dit vir jouself en moenie jouself as ‘n mislukking sien as jy val of kroek nie. Gaan net aan. Al gaan dit stadiger, jy sal by jou doelwit uitkom.”