Kyle Brits: ‘Hierdie siekte is ‘n aaklige siekte’

Deel hierdie storie / Share this story

Kyle Brits se toestand het weer versleg en sy vrou, Chrisiaan, smeek om gebede vir haar man.

Chrisiaan, mamma van drie kinders en Kyle se vrou, het op ‘n gebedsgroep wat sy op Facebook gestig het om oor Kyle se vordering verslag te doen, gesê Kyle doen vanoggend weer ‘n bietjie slegter.

“Hy het niks geslaap nie. Hy het nou eers aan die slaap geraak. Hy is baie deurmekaar en sê dit voel asof sy brein ‘gecopy en gepaste’ is.”

Kyle is met synovial sarcoma, ‘n aggressiewe tipe kanker, gediagnoseer na hy ses maande gelede ‘n knop onder sy arm gevoel het en gedink het dis ‘n klier wat geswel het. Lees die vorige berig hier.

“Hierdie siekte is die aakligste siekte ooit,” sê Chrisiaan. “Hy blaas net genoeg lewe in jou dat jy verder kan ly. Ek wens dit vir niemand toe nie.”

Sy sê verder haar en Kyle se dogtertjie raak baie emosioneel en wil net by haar pappa wees. “Sy vra heeltyd wanneer hy doodgaan. Sy is bekend met die dood ná ons dogtertjie twee jaar gelede oorlede is,” voeg sy by.

Chrisiaan sê hulle vermoed dat Kyle breinskade opgedoen het toe hy verlede week in ‘n koma gegaan het ná hy te min suurstof gehad het.

“Hy kan ook nie meer onderskei tussen die kinders nie. Hy weet net wie is ek. As iemand kom kuier, vergeet hy oor ‘n halfuur dat hulle hier is of was. Hou hom asseblief in julle gebede,” smeek sy.

OxyGen Homecare het ook gister hul harte oopgemaak om Kyle te help. Gys Pretorius, saakbestuurder van Nelspruit, sê hulle het Kyle van ‘n ekstra suurstofmasjien voorsien.

“Kyle, jy en jou gesin is in ons gebede.”