“As jy iets abnormaal op jou lyf ontdek, gaan sien dadelik ‘n dokter. My man het ses maande gelede iets ontdek, dit gelos, en vandag wag ons vir hom om dood te gaan.”
Dit is Chrisiaan Brits, mamma van drie van Pretoria, se smeking nou dat haar man, Kyle Brits, by die huis versorg moet word ná sy skielike agteruitgang.
“Die dokter het nou mooi met my gepraat en aan my verduidelik as Kyle nie Woensdagoggend beter voel nie, ons die deadline vir chemo gemis het,” het Chrisiaan Dinsdag gesê.
Die paartjie het drie kinders, hulle jongste ‘n babatjie van twee maande oud.
Sy vertel hoe haar man ses maande gelede ‘n knop so groot soos ‘n R1-muntstuk onder sy arm ontdek het. “Hy het gedink dis maar van sy kliere wat geswel was, en so het ons dit gelos. Kort voor lank het die knop begin groei en net groter en groter geraak.”
Chrisiaan sê Kyle, wat ‘n motorverkoopspersoon was, is eers verkeerd gediagnoseer. Toe hulle in November ‘n dokter gaan besoek het omdat Kyle elke tweede week baie siek was, het die dokter gesê dis ‘n klier wat geswel was. Chrisiaan sê Kyle is met antibiotika huis toe gestuur, maar daar het geen verbetering gekom nie.
Hulle is toe ‘n sonar laat neem. Teen dié tyd was die groeisel 1 – 2 cm groot. “Die pyn het net vererger. Ons was later na Steve Biko toe, waar hulle gesê het dit lyk soos melanoom, ‘n tipe velkanker.”
So is Kyle weer met medikasie huis toe gestuur. Toe hy in Januarie weer terug is dokter toe, is hy in die hospitaal opgeneem.

“Hulle het gesê dit lyk soos ‘n sinoviale sarkoom en hy is vir twee dae daar opgeneem waar hy ‘n skandering ondergaan het. Hulle het net gesê dit het na sy longe versprei het en dat hy op 13 Januarie weer moet terugkom.
So het Chrisiaan en Kyke weer teruggekeer, met nog meer onsekerheid oor wat regtig met Kyle fout is. Hulle kon nog nie die uitslae kry nie en moes weer tuis gaan wag.
“Maandagoggend (7 Februarie) kon Kyle nie urineer nie,” sê Chrisiaan. “Ek het die dokter gebel en gesê ons moet inkom, maar die resultate van die skandering was steeds nie terug nie.”

Toe hulle uiteindelik kon uitvind, moes hulle hoor dat Kyle met synovial sarcoma gediagnoseer is. “Dis ‘n baie skaars tipe kanker, maar ‘n baie aggressiewe kanker, wat Kyle in ‘n kwessie van ses maande na fase 4 geneem het.”
Kyle is nou bedlêend en Chrisiaan sê hulle oorweeg dat hy chemoterapie kry.
“Hy het gesê hy wil nie meer so leef nie. Hy het vroeër vandag vir my gesê hy wil die chemo doen, maar hy is so deurmekaar. Al wat ons nou kan doen, is wag.”
“Môre is nie vir Kyle belowe nie, maar ons doen ons bes. Ek sê altyd vertrou op God en ek het al soveel wonderwerke gesien. Ek glo my man sal een wees.”
Indien jy ‘n bydrae wil lewer vir Kyle se behandeling, kontak vir Chrisiaan by 062 070 9099.
Daar is ook ‘n BackABuddy-veldtog begin as jy ‘n bydrae wil maak. Klik hier.



