‘n Agtjarige seuntjie, Dillon, het sy eie handgeskrewe boek op ‘n biblioteekrak gelos vir mense om dit “uit te neem”.
Dillon Helbig, ‘n graad 2-leerling wat in Idaho bly, het op die blaaie van ‘n rooi hardebandboek geskryf oor ‘n Kersfees-avontuur en met gekleurde potlode illustrasies gemaak.
Toe hy middel Desember 2021 die boek klaargemaak het, het hy besluit dat hy die boek met ander wou deel. Só graag dat hy ‘n plan uitgewerk het en gewag het vir die regte oomblik om dit uit te voer.
Toe hy dae later die Ada Community Library saam met sy ouma besoek, het hy die boek van 81 bladsye styf teen sy borskas gehou en verby die bibliotekaresse geloop. Sonder dat sy ouma besef het, het Dillon die boek op een van die rakke met kinderboeke in die biblioteek gelos.
Die boek, getiteld The Adventures of Dillon Helbig’s Crismis is deur “Dillon homself” geteken.
Dillon het later aan sy ma erken dat hy die boek sonder toestemming daar gelos het. Toe hy egter twee dae later na die biblioteek terugkeer, was dit nie meer daar nie. Sy ma het die biblioteek gebel en gevra of iemand die boek gekry het, en dat hulle dit nie moes weggooi nie.
Alex Hartman, takbestuurder by die biblioteek, het gelag en gesê dat sy boek heeltemal te spesiaal was om weg te gooi.
Hartman en ‘n paar kollegas het Dillon se boek ontdek en gelees oor sy avonture van ‘n ontploffende ster op die Kersboom en die eerste danksegging by die Noordpool.
Hartman het die boek vir sy 6-jarige seun, Cruzen, gelees, wat gegiggel het en gesê het dis een van die snaaksste boeke wat hy nog gehoor het.
Personeel by die biblioteek het besluit dat Dillon se boek, hoe informeel en onkonvensioneel dit ook al was, in die kriteria pas en dit formeel by die biblioteek se versameling ingesluit.
Dillon se boek is nou deel van die boeke vir kinders, tieners en volwassenes. Die biblioteek het Dillon selfs vereer met sy eerste Whoodini Award for Best Young Novelist. – The Washington Post
Volg FiND iT hier op Facebook.
Lees ook: The Mighty Ducks-ster Shaun Weiss vier twee jaar skoon



