Boodskappe van bemoediging stroom in op sosiale media na die 18-jarige model, Olivia Sieff, oorlede is na sy glo buite ‘n gewilde klub in Kaapstad deur ‘n motor raakgery is.
Die voorval het volgens die polisie om 01:50 Sondagoggend buite een van Claremont se klubs, Tin Roof, gebeur.
Sieff, wat ‘n model by Boss Models was, het 10 dae gelede haar matriekuitslae ontvang en haar toekoms het blink voor haar gelê.
Sieff was glo die aand uit saam met vriende voor sy besluit het om huis toe te gaan. Van haar vriende het glo die ongeluk gesien gebeur.
Sy het in 2021 aan Herschel Meisieskool gematrikuleer.
Die skool het ook sy medelye uitgespreek en in ‘n Facebook-plasing gesê matrieks van 2021 kan Maandagoggend die skool kom besoek om hulde aan Olivia te bring.
“Die Herschel Meisieskool-familie is platgeslaan oor die tragiese nuus van Olivia Sieff se dood vroeg Sondagoggend. Ons stuur liefde en ondersteuning aan Olivia se familie en vriende, wat ons weet hartgebroke is.”
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag na die voertuig weggejaag het na die ongeluk.
. – CapeTownEtc, AfriNuus, PretoriaFM, The South African
Lees ook: Klein Mienke word 5 in die hemel



