Vra vir Braam

Deel hierdie storie / Share this story

Abraham Willem Petrus van der Westhuizen, beter bekend as Braam (64), is ‘n welbekende inwoner van Kuruman.

Met meer as agt jaar se ondervinding as distriksraadslid en 19 in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, weet Braam hoe om ‘n gemeenskap te dien.

Braam, wat vir die afgelope 33 jaar ‘n inwoner op die dorp is nadat hy in 1989 na Kuruman as distrikspeurhoof van die ou SAP verplaas is, se hooffokus was nog altyd om dienslewering te versnel.

Hy is tans die wyksraadslid van Wyk 1 Kuruman in die Ga-Segonyana- plaaslike munisipaliteit en eienaar van ACSB Reaction en PI Services (sekuriteitsmaatskappy en privaat ondersoeke) en beywer hom om toe te sien dat die nodige herstelwerk en instandhouding van infrastruktuur vir elektrisiteitvoorsiening, straatbeligting, basiese sanitasiedienste en waterprobleme plaasvind.

As wyksraadslid voel Braam dit is sy plig om die gemeenskap op hoogte te hou wanneer daar probleme met die infrastruktuur ontstaan of wanneer inwoners probleme het met swak dienslewering of foutiewe rekeninge het.

Op politieke vlak dien Braam in die munisipaliteit se uitvoerende bestuur as voorsitter van menslikehulpbron-bestuur, is voorsitter van die Kalahari-kiesafdeling van die DA, dien in die provinsiale uitvoerende bestuur van die DA en hy is ook ‘n lid van die DA se provinsiale dissiplinêre komitee.

Braam verduidelik dat in sy beroep dit van kardinale belang is om ‘n goeie verhouding en vertroue met die amptenary op te bou om terugvoering oor al die probleme te kan kry.

“Volgens die munisipale sisteme en strukture wetgewing word dit as oneties beskou om direk met die beamptes wat die werk doen te kommunikeer en moet alles dus via die burgemeester gaan, maar omdat ek almal soos ‘grootmense’ en met die nodige respek behandel – wat die burgemeester waardeer – word ek toegelaat om direk met hulle te kan kommunikeer en dit maak alles soveel makliker.”

Braam, wat homself beskryf as iemand wat altyd bereid is om ander mense te help, is ook die voorsitter van Kuruman-rolbal en Kalahari-rolbal-streek en dien in die Noord-Kaap-rolbal se bestuur. Hy is die voorsitter van Kuruman-rugbyklub en dien in die bestuur van die Van Druten-rugby-sub-unie.

Tussendeur al sy pligte en om inwoners sover as wat hy kan gelukkig te kan hou, geniet hy dit om tyd saam met sy hartsmense en kleinkinders te spandeer en hoewel hy bitter min vrye tyd het, vang hy graag vis of klim op sy Yamaha 700 Raptor “quad” en vaar die ooptes in.

“Ek doen my bes om by alles en almal uit te kom, maar dit is nie altyd moontlik nie, veral as daar ‘n krisis is.”

En ja, erken Braam, daar is baie stampe, stote en uitlatings wat hom soms seermaak, maar dan sê hy altyd vir sy vrou dat almal die reg het om te kla of ongelukkig te wees wanneer dienste swak gelewer word, maar inwoners moet onthou, die Infrastruktuur is oud en broos en daar gaan nog baie probleme opduik totdat dit alles weer herstel is.