Moti-broers: ‘Ons hoop op die dag wat ons na SA kan terugkeer’

Deel hierdie storie / Share this story

Die ontvoerde Moti-broers se pa, Naazim Moti, het Sondag in ‘n verklaring die stilte verbreek ná die gesin skielik na Dubai verhuis het.

Naazim, ‘n sakeman van Polokwane, en sy gesin se lewens is in Oktober verlede jaar omvergegooi toe die vier broers op pad skool toe ontvoer is.

Die media het wyd berig oor die ontvoering tot die seuns 21 dae na die ontvoering ongedeerd vrygelaat is.

Naazim se verklaring, wat deur Yusuf Abramjee op Twitter gedeel is, volg ná verskeie mediaberigte lt.-kol. Robert Netshiunda aangehaal het en gesê het dat die polisie verbied is om met die vier broers, Zia (15), Alaan (13), Zayyad (11) en Zidan (7) te praat.

In sy verklaring sê Naazim dié mediaberigte is verkeerd en dat hulle nie ‘n interdik teen die polisie gekry het nie.

Hy bevestig egter wel dat die gesin na Dubai verhuis het. “Ons skielike vertrek was buite ons beheer. Soos enige ouer sal verstaan, ons kinders se veiligheid kom eerste. Ons het getrek om vir ons seuns ‘n veilige omgewing te skep om te herstel van die trauma wat hulle beleef het.”

“Ons hoop steeds op die dag wat ons veilig na ons geliefde land Suid-Afrika kan terugkeer.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Meisie dood, nog agt beseer toe rukwind springkasteel skep