Nonnie van Wyk, ‘n boervrou van Brandvlei wat vroeër vanjaar ook ‘n video gedeel het van hoe dankbaar hulle oor die reën na byna 10 jaar was, deel ‘n hartroerende Kersboodskap aan almal wat haar, haar gesin en boere oor die algemeen deur 2021 gedra het.
Lees ook: Trane van blydskap oor reën ná 10 jaar
“Wees altyd dankbaar vir alles wat jy het en lewe eenvoudig. Hoe minder goeters jy het, hoe minder worries het jy, en hoe lekkerder slaap jy. Veral as jy dit gelukkig tref met ‘n paar druppels reën oppie sinkdak.
“Wees onvoorwaardelik lief vir jou gesin (ook in die droogste tye van jou lewe) en familie. Aanvaar elkeen presies net soos hy/sy is… Ons is almal perfek in die Here se oë. Sy skepsels. Bid vir mekaar. Wees bly as jou buurman se reënmeter vol genadewater is… Jou beurt gaan kom.
“Moenie toelaat dat jou brein muf met issues soos skuldgevoelens of grudges nie… Sorteer alle strooi uit nog voor die son sak. Leef & laat leef. Werk sag met mekaar. Dis al 10 jaar se worries wat ons almal met ons saamdra. Moenie jou glimlag verloor nie, want net dalk sit jy ‘n glimlag op iemand anders se gesig.
“Hardloop jou lewe se speedometer in die rooi in. Help waar jy kan en lewe voluit, terwyl jy nog lewe in jou het.
Use it or lose it!
“Geniet die eenvoudige dinge. Met die 10 jaar droogte & dris kinders kom ek agter ek kan met baie minder klaarkom. Die image-goed en Keeping up with the Jones is sommer nonsens.
“Ons boervrouens maak planne. Ons bak beskuit, koekies, vrugtekoeke en lê in als wat ons kan verkoop. Ons doen naels, ons verkoop skoonmaakmiddels, party maak seep en ander verkoop hoenders of eiers. Dan is daar die skrywers, onderwyseres, die boervrou “susters” by die kliniek, die skriba en soveel meer.
“As jy ‘n no-name T-hemp sien wat jy laaik, koop dit. Te hel met die handelsware wat jy in elk geval nie kan bekostig nie – solank dit net gemaklik pas.
“Kyk hoe lekker dra my Droogtehulp-klere wat van oraloor af kom. Mense wat aan my en jou gesin gedink het!! Veral met die kinders wat nooit ophou groei, is hierdie ‘n groot hulp. Dankie vir almal daarbuite se skenkings.
“Behou jou grappige vrinne en vermy die suuriges. Pruime krap net jou maag en gemoed om. En ons het juis daai vrinne nodig wat jou vir ‘n uur of twee kan laat vergeet van droogte, dooie lammers, skoolgeld, voer skuld en jou man se verslete vellies.
“Jou huis is jou plek en daar leef jy soos JY wil, en die beste kar is een wat klaar betaal is!
“Stel God eerste en alle ander goed sal self in plek val. Hê geloof! Praat mekaar moed in en wees dankbaar vir gesondheid. Sonder medies is dit een van mens se grootste kopsere. Dankie vir die persone wat my opgetel het toe ek op my laagste was.
“Sê vir mense dat jy vir hulle omgee. Môre trek jy dalk jou hout-jas aan, dan’s dit te laat!
“Dan vir jou daarbuite wat my en alle mede-boervrouens se kaste vol hou met broodnodige kruideniersware, boervrou-boksies, selfs ‘n Sarie of ‘n Rooi Rose… Dankie. Ons het mekaar dalk nog nooit ontmoet nie, maar JY het my as ma & boervrou (onbewustelik) aan die gang gehou.
“Geskenkies is gestuur vir ons kinders van die Noorde tot die Weste. Geskenkies wat ogies laat blink en hulle die dae laat aftel tot Kersfees, want daar is iets onder die Kersboom vir my kinders. Dankie dat jy ook aan my kinders gedink het.
“Geniet die laaste paar dae van 2021 en weet: Hierdie boervrou sê elke aand dankie vir jou en jou gesin wat die heeltyd ook aan myne gedink het. Dankie dat jy omgee en jou tyd vir ons afstaan om donasies bymekaar te maak. Dankie vir kos pakkies, voer-hulp van vreemdelinge wat vriende en vertrouelinge geword het, hulp met ‘n toegegroeide windpomp, bemoedigende woorde en briefies, ‘n spesiale serpie net vir my uitgekies. Dankie vir elkeen wat ons deur 2021 gedra het.”
Nonnie van Wyk
BRANDVLEI
Noordkaap
Volg FiND iT hier op Facebook.



