Trane van blydskap oor reën ná 10 jaar

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Baie gelukkige boervrou van Brandvlei, Nonnie van Wyk, het Donderdagaand ‘n video op Facebook gedeel waarin sy haar blydskap oor die reën op hulle plaas uitspreek.

“Ek is so so so dankbaar vandag, na byna 10 jaar! My vyfjarige seuntjie het nog nooit reën gesien nie.”

Nonnie se man, Danie, het hulle seuntjie, Samuel, uitgevat toe hy op die plaas gaan rondry het en Nonnie lag en sê hy het nie eers omgegee dat hy op plekke in die modder vasgesit het nie.

Nonnie vertel hoe bang Samuel was en hy het vir sy ouers vertel hoe die “tsunami” hulle gaan laat verdrink. “Dit was te kostelik!”

Nonnie sê sy wil bitter graag dankie sê aan elkeen wat bly bid het en dat dit beslis van die Here se hand is dat hulle vandag reën gekry het.

Sy huil terwyl sy oor en oor sê hoe dankbaar hulle is.

“Die skuld gaan nie oornag weggaan nie en die skapies gaan nie oornag vet word nie, maar hierdie is ‘n begin, hierdie is ‘n teken. My blydskap was net só groot.”

Kyk hier na die video.