AUSTRALIë. – Cleo Smith, die vierjarige blonde bruinoog dogtertjie, is sedert die naweek vermis nadat sy Saterdag laas in haar swart-en-rooi slaapsak gesien is.
Cleo het uit haar gesin se tent op die kampeerterrein Blowholes in Macleod, ongeveer 50 kilometer noord van die stad Carnarvon verdwyn. Die Wes-Australiese polisie gaan voort om die gebied met die hulp van hommeltuie en vliegtuie te deursoek. ‘n Aantal ondersoekhulpbronne, speurders van die moordspan asook forensiese en plaaslike speurders, neem aan die soektog deel.
Die Wes-Australiese polisie het intussen op hulle Facebook-blad aangekondig die regering het ‘n beloning van tot $1 miljoen (ongeveer R11 miljoen) aangebied vir inligting wat kan lei tot die opspoor van Cleo, of wat kan lei tot die inhegtenisneming en skuldigbevinding van die persoon of persone wat betrokke was by haar verdwyning.
Cleo Smith al ses dae vermis
Verskeie oorsese publikasies beweer die ma het Cleo laas om 01:30 in die gesin se tent gesien toe sy dors was en na water gevra het. Toe haar ma om 06:00 wakker word om Cleo se jonger suster te voed, was Cleo weg. Die tent het ‘n skeiding in die middel gehad. Die ma het die oggend by die kant waar Cleo-hulle geslaap het ingegaan en die rits na buite was oop. Cleo was weg.
Sy het ‘n pienk-en-pers slaappakkie met blou en geel patrone op die betrokke aand aangehad.
Die polisie glo nie sy kon self die tent verlaat nie, aangesien die rits te hoog was vir haar om oop te trek. Die soektog na Cleo duur steeds voort.
LEES OOK: Curro Heuwelkruin-leerders kniel en bid vir boeties se veiligheid
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



