Ma dood vier weke na sy met maagkanker gediagnoseer is

Deel hierdie storie / Share this story

Lucy, ‘n babadogtertjie van nege maande oud, se ma, Susan Ricken, is skielik dood ná sy aanvanklik met blindedermontsteking gediagnoseer is.

John Paul Ricken, Lucy se pa, vertel: “Ses weke gelede het ons Kersfees beplan en saam besluit oor wat ons vir die kinders gaan koop.”

Die gesin het in Perth gewoon.

Hy vertel van die dag wat hy sy vrou en die ma van sy kinders verloor het. “Ek het ‘n gil in die badkamer gehoor. Sy het haar maag vasgehou.”

Na Susan begin opgooi het, het Paul haar na die hospitaal gejaag. Sy was vir blindedermontsteking getoets en die dokters het probeer om vas te stel wat fout is en hoekom sy pyn in haar maag en bors gehad het.

Sy is in die hospitaal opgeneem en vier dae later is Susan geopereer om ‘n groot gewas uit haar maag te haal. “Die onkoloog het gesê dit lyk soos maagkanker en dat sy moontlik sal sterf.”

“Van blindedermontsteking na ‘sy gaan sterf’. Ek was oorweldig. Ek het begin huil, ons het na mekaar gekyk en gedink dis net ‘n nagmerrie.”

Susan was vir twee weke in die hospitaal voor sy huis toe kon gaan. Sy was in dié tyd op medikasie en het nie krag gehad om met die kinders te speel nie, vertel Paul.

Hy vertel hulle het goeie herinneringe geskep voor sy op 19 November dood is.

“Ons het nie kans gehad om enigiets te verwerk nie, vandat sy by die hospitaal was tot sy weer huis toe gekom het, het sy heeltyd sieker geraak. Ons kon ook nie met mekaar praat nie, want sy was so moeg en uitasem.”

“Lucy weet nog nie wat aangaan nie, maar Leo is baie deurmekaar oor hoekom sy ma nie by die huis is nie. Ek het vir hom gesê Mamma is nou by die maan en sterre. Elke aand as hy in die bed klim, kyk hy na die maan en waai vir Mamma.”

Volg FiND iT hier op Facebook.

Lees ook: Anti-Covid-19-pil goedgekeur