Derde plek in bikinikompetisie slegs maande ná ernstige ongeluk

Deel hierdie storie / Share this story

Sammy van der Walt, wat al vir 10 jaar in Bloemfontein woon en vroeër vanjaar in ‘n ernstige ongeluk was, het ná haar ongeluk besluit dat sy vir die eerste keer aan ‘n bikinikompetisie wil deelneem.

Sammy sê die lekkerste deel van Bloemfontein is vir haar die “plattelandse gevoel” wat mens in dié stad kry. “Dis nie te groot nie, maar hier is alles wat jy nodig het.”

Sy het in November aan haar tweede bikinikompetisie deelgeneem en het tussen die ander deelnemers uitgeblink. Sy het derde gekom tussen 10 meisies wat aan die Bikini Model-kategorie by die WFF PRO AM deelgeneem het.

Sammy vertel dis die eerste maal wat die WFF PRO AM in Bloemfontein gehou is. “Die geleentheid was ‘n reuse sukses en die federasie het baie moeite gedoen!”

Sammy, wat saam met haar persoonlike afrigter, Nicole Daamen, voorberei het vir die kompetisie, vertel sy het 12 weke voor die kompetisie begin met voorbereiding. “Dit was nie elke dag maklik nie, en dit verg harde werk, maar dit is beslis die moeite werd. My afrigter is nogsteeds Nicole Daamen. Daar is niemand anders wat ek sal vertrou om die pad saam met my te stap nie.

Dan vertel Sammy van die herstelproses wat sy steeds stap na haar ongeluk op 9 April. “Die herstelproses na die ongeluk is ongelooflik. Ekself is verbaas oor alles wat ek kan vermag en ek voel baie goed!”

Sammy beplan om in 2022 weer deel te neem. “Ons beplan om in Mei reg te wees om ‘n oefen- en eetplan te volg vir die seisoen.”

“Ek glo en hoop om ‘n rolmodel vir mense te kan wees. Ek wil mense inspireer en wys dat harde werk beloon word. Hierdie sport het my soveel geleer oor myself en ek besef net elke dag hoe ‘n groot voorreg dit is om dit te kan doen.”

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook.

Lees ook: Anri Powell: Ace Models meer as net ‘n mooi gesig