Anri Powell: Ace Models meer as net ‘n mooi gesig

Deel hierdie storie / Share this story

Anri Powell (45), eienaar van die Bloemfontein-tak van Ace Models, vertel Ace Models is vir die afgelope nege jaar een van die grootste akademies in die land.

Anri is met Jimmy Powell getroud en hulle het twee kinders, Caylyn (15) en Jaeden (13).

Anri woon al 27 jaar in Bloemfontein en het in Bethlehem gematrikuleer. Ná matriek het sy haar diploma in bemarking aan die technikon verwerf.

Ace Models is 17 jaar gelede in Mosselbaai begin deur Joani Johnson, wat nou hoof uitvoerende beampte by Ace Models is. Anri vertel hoe Joani die naam wou uitbou. “Joani het in 2012 besluit sy wil die naam uitbrei en ek het haar eerste franchise in Bloemfontein gekoop.”

Anri vertel baie mense verwar Ace Models met ‘n agentskap. “Die Ace Models-akademie roem daarop om met al die aspekte van lewensvaardigheid en persoonlike ontwikkeling te werk en dan ook die modelle bloot te stel aan die industrie en om al die aspekte van modelwerk vir hulle te leer.”

Anri vertel Ace Models werk baie nou saam met agentskappe in Johannesburg en in Kaapstad en dat daar tans geen agentskap in Bloemfontein is nie.

Anri vertel haar passie was nog altyd om met jongmense te werk. “My passie was nog altyd jongmense en om hulle te laat verstaan dat jou waarde net deur jouself bepaal kan word en nie deur mense om jou nie. Ek glo daarin dat as jy jou eie waarde kan ontdek, jy enigiets in die lewe kan aanpak!”

Anri vertel hoe belangrik selfvertroue is. “Selfvertroue is een van die grootste aspekte waaraan ons moet werk. Sodra jy dit gevestig het, kan jy van daardie fondasie af werk om enige mens te laat verstaan en help wat sy/haar doel is en ook hoe om daar uit te kom.”

By Ace Models word ‘n wye verskeidenheid model-aspekte gedek, onder andere fotografie, loopwerk, openbare toesprake, skoonheidskompetisies, lewensvaardigheidsontwikkeling, selfvertroue, CV’s en onderhoude.

Daar is meer as 500 modelle wat regoor Suid-Afrika deel is van die Ace Models-akademie en net in Bloemfontein alleen is tussen 100 en 150 modelle wat jaarliks aan hulle programme deelneem..

Ace Models het in September vanjaar weer ‘n jaarlikse internasionale konferensie bygewoon waar al 25 Ace Models-takke saamgetrek het. Daar was vanjaar 230 modelle.

Anri vertel die Bloemfontein-tak het in baie kategorieë by dié saamtrek in verskillende ouderdomsgroepe pryse verower. Hulle het ook in drie kategorieë die Algehele Model van die Jaar-toekenning gewen.

Onder andere het Ace Models Bloemfontein die Team Spirit Award, Recycle Academy of 2020 en die algehele Mr & Miss Ace Models International gewen.

Anri sê sy glo vas dis haar roeping en haar doel op aarde om met mense te werk. Dis vir haar die lekkerste ding om met die jeug te werk en daagliks te sien hoe jongmense voor haar oë ontwikkel en in hulle menswees groei.

“Die uitdagendste deel van my werk is om te streef om mense se verwagtinge te probeer handhaaf. Mense kan soms ‘n bietjie genadeloos wees en almal sien nie altyd jou hart raak nie. Ek moet soms die harde waarheid van ons industrie deel en mense neem dit nie altyd so maklik op nie.”

Wat ook vir Anri ‘n uitdaging is, is om die samelewing se idee oor modelakademies te probeer verander. “Ons is ‘n skool wat opleiding gee en ons hart is daar om jou kind as mens te ontwikkel.”

“Glo in jouself. Jy kan enigiets bereik as jy jou hart daarop sit, bereid is om hard te werk en gedetermineerd is om jou drome ‘n realiteit te maak.”

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook

Lees ook: Die Avonture van Skapie-Mê bekendgestel