Die 25-jarige Katrien Griessel van Benoni het op Vrydag vermis geraak na sy vir haar familie gesê het dat sy na vriende in Brakpan gaan. Ronel en Katrien se ma, Sariette, het Sondag nog ‘n SMS van Katrien af ontvang.
Ronelda Griesel Momberg, wat rasend van bekommernis is oor haar susterskind wat sedert Vrydag vermis is, vra die gemeenskap se samewerking om haar op te spoor.
“En dis vreemd, want sy stuur nooit SMS’e nie. Sy sal altyd op WhatsApp met ons kommunikeer. Dis baie vreemd. Sy sal nie net haar 4-jarige seuntjie los en verdwyn nie.”
“In die SMS’e het sy gevra dat haar ma vir haar R50 leen, omdat sy brood en melk wou koop. Sy het later baie deurmekaar gepraat en gesê sy loop iewers in ‘n veld rond en dat dinge baie deurmekaar is, maar dat die Here vir haar ‘n manier sal gee om weer by die huis te kom.”
Sariette en Ronelda vermoed egter dat dit nié Katrien is wat dié SMS’e gestuur het nie, omdat hulle sedert Vrydag nog nie Katrien se stem gehoor het of direk met haar in kontak was nie.
Ronelda sou Katrien Sondag by haar vriendin in Brakpan gaan oplaai.
“Sy het ‘n rukkie terug met ‘n man deurmekaar geraak. Na ek ‘n bietjie oor die man rondgevra het, het ek besef dat hy gejok het oor waar hy werk. Ná hy hier was, het hier ook goed in die huis verdwyn.”
Sariette is ook rasend van bekommernis oor haar dogter wat vermis is. “Ons het stories gehoor oor mensehandel, dwelms en kinders wat ontvoer is. Wat moet nou as ma deur my gedagtes hardloop as ek weet dat sy moontlik saam met daardie man is?”
‘n Vriendin van Katrien het ook kort voor twaalf gebel en gesê dat sy baie bekommerd is oor Katrien. Katrien was glo baie deurmekaar en emosioneel toe sy haar van ‘n onbekende nommer af gebel het.
Sariette en Ronelda sukkel nou om ‘n saak by die polisie oop te maak en het hulle daarom na Facebook gewend in ‘n poging om Katrien op te spoor.
*EDIT: Katrien is intussen gevind. Lees die opvolgartikel hier.
Volg FiND iT hier op Facebook.



