Die pad van ‘n aangenome kind

Deel hierdie storie / Share this story

Zané Melony Steyl (25) gesels met ons oor die pad wat sy as aangenome kind gestap het, hoe dit haar en haar aanneemouers se lewens verander het en gee ook raad aan ander wat moontlik deur dieselfde gaan.

Zané is as 11 dae oue baba aangeneem en het by haar aanneemouers in Bloemfontein gaan woon, en woon al vir 25 jaar in dié stad. Haar aanneemouers het vir 10 jaar gesukkel met behandeling om ‘n kind van hul eie te hê en was vir lank op ‘n waglys vir ‘n babatjie voor hulle haar aangeneem het.

Ná skool het Zané gaan studeer om ‘n elektrisiën te word. Sy werk tans as ‘n persoonlike assistent. Sy beskryf haarself as ‘n “Jack of all trades” en lag as sy sê dat sy eintlik maar alles doen.

Zané vertel dat sy van ‘n jong ouderdom af al geweet het dat sy aangeneem is. “Ek is grootgemaak met die wete dat ek aangeneem is. Ek is maar baie op laerskool gespot. Kinders het vir my dinge gesê soos dat my ma my nie wou hê nie.”

Zané sê sy het tydens haar grootwordjare maar met baie vrae geworstel en deur baie fases gegaan. “Daar is maar ‘n fase waardeur jy gaan en voel jy is ‘n mislukking, want niemand wou jou eers as ‘n pap babatjie gehad het nie. Verwerping is ‘n baie moeilike ding – oor die algemeen, selfs in verhoudings en nou as grootmens. Die letsel wat jy op jou hart dra dat jou eie ma jou nie wou hê nie, bly vir altyd met jou.”

Zané sê sy het op hoërskool begin bang raak dat haar ma haar gaan kom steel, maar kon deur haar maatskaplike werker gerusstelling ervaar toe sy uitgevind het haar ma woon nie in Bloemfontein nie.

“Om die kersie op die koek te sit, ná al die verwerping en goed in my lewe, is ek gay. So dit maak dit nou nog moeiliker, want mense sê dis as gevolg van die feit dat ek ‘n aangenome kind is. Maar dis nie die geval nie.”

In Zané se matriekjaar het sy tydens haar 18de verjaardag matriekeindeksamen geskryf. Sy het besluit dat sy nie met haar eksamen wil inmeng nie, en dat sy haar ma vroeër wou ontmoet.

“Aan die begin van 2014 het ek en my biologiese ma eers briewe aan mekaar geskryf. Ek het in dié briewe agtergekom dat daar oor sekere dinge vir my gejok word. In April het die ontmoeting plaasgevind.”

Zané sê wat die moeilikste van daardie dag was, is dat haar maatskaplike werker voor die tyd vir haar ma gesê het om haar nie vas te gryp wanneer sy haar sien nie, omdat sy nie regtig ‘n mens is wat hou van fisiese kontak as sy iemand nie ken nie.

“My broer het ingekom en my met die hand gegroet. My ma het my vasgegryp en geskree ‘My kind, my kind’. Dit is ‘n emosie wat ek aan niemand kan beskryf nie.”

Op 18-jarige ouderdom het Zané uitgevind dat haar biologiese pa oorlede is toe sy 13 was, sonder dat hy ooit van haar geweet het. “Sy droom was om ‘n kind van sy eie te hê en hy het doodgegaan sonder om sy enigste kind te ken. Ek was baie kwaad daaroor dat hy dit nooit geweet het nie en dit was ‘n teer punt in my lewe. Dis erger om iemand te mis wat jy nie ken nie, omdat daar nie herinneringe is waaraan jy kan vasklou nie. Dis net vrae.”

Zané vertel sy het ‘n baie goeie verhouding met haar biologiese pa se familie.

Zané sê sy kan vandag sê dat sy werklik ‘n beter lewe gehad het. “As dit nie vir my biologiese ouers was nie, het my aanneemouers nooit ‘n kind gehad nie.”

Sy vertel hoe sy van jongs af met meisies gepraat het wat gewonder het of hulle hul babatjie vir aanneming moet opgee. “Ek het hulle altyd aangemoedig om dit te doen, want die babatjie het dan altyd ‘n kans op ‘n beter lewe. As jy in ‘n situasie is waar jy nié die beste vir ‘n kind kan gee nie, gee die kind op vir aanneming.”

Zané sê alle aangenome kinders ervaar egter nie die proses dieselfde nie en dat almal maar deur ‘n rebelfase gaan. “Jy het soveel dinge in jou wat jy moet uitklaar. Iemand wat nie deur so iets gaan nie, sal nie kan getuig van wat jy ervaar nie.”

“Aanneming is ‘n tweede kans op die lewe.”

Zané sê sy is tog bly dat sy haar ma kon ontmoet en dat sy kon besluit of sy haar deel wil hê van haar lewe of nie. Haar hart is seer oor haar pa en sê sy sou hom tog graag wou geken het.

“My aanneemouers is baie ondersteunend in daardie opsig. Hulle verstaan dat bloed dikker is as water. Tog sal ek hulle in my lewe nooit vir enigiets of enigiemand verruil nie. Hulle het soveel vir my opgeoffer en my grootgemaak as hul eie. Ek kan nie meer dankbaar wees daaroor nie. Hulle is my ouers.”

“Ouers wat kinders wil aanneem, moet net weet daar gáán vrae kom. Daar gaan tye wees wat die kind wil weet waar hy of sy vandaan kom. Jy as ouer moet verwag dat vrae voorlê.”

Zané voel ook dat dit beter is om ‘n aangenome kind van die begin af die waarheid te vertel, omdat hulle in ‘n latere stadium in hulle lewe moeiliker die nuus sal kan aanvaar.

“En as jy kinders van jou eie het, moenie dat jou aangenome kind uit voel nie, moenie dat hy of sy aan die kortste end trek nie.”

Volg Bloemfontein Online Co. hier op Facebook

Lees ook: Aanneem-ouers: Ons is die gelukkige party