Tanya Botha, ‘n aanneem-mamma, vertel van die proses van aanneming en hoe hulle aanneem-babadogtertjie hulle lewe verander het.
Botha vertel van die drie paaie wat jy kan volg wanneer jy ‘n babatjie wil aanneem. Die eerste manier is deur ‘n privaat maatskaplike werker. Wanneer jy dié opsie kies, het jy ‘n sê oor die babatjie se oogkleur, ras ensovoorts. “Die proses kan enigiets van ‘n dag tot sewe jaar neem om te voltooi.” Botha vertel ook dat die proses nogal duur is, dit kan jou meer as R25 000 uit die sak jaag.
Die tweede manier is om deur ‘n staatsinstansie te werk. Dié opsie is aansienlik goedkoper.
Die derde opsie en ook die pad wat Tanya en haar man stap om hulle babatjie aan te neem, is deur pleegsorg. Die kans dat die aangenome babatjie se biologiese ouers wel later op hulle voete kan kom, bestaan wel, maar Tanya sê dis belangrik om te onthou dat dit nie oor jou gaan nie, maar oor die kindjie.
Sy vertel dis net genade wat gemaak het dat hulle hul dogtertjie kan aanneem. “Ons wou nie op 40-jarige ouderdom eers met ‘n familie begin nie, en so het ons begin kyk daarna om ‘n baba aan te neem.”
‘n Kennis van Tanya en haar man het uiteindelik vir hulle vertel van ‘n babatjie wat aangeneem kon word. “Ons het die Woensdag gehoor dat ons haar die Vrydag kon kry,” vertel Tanya. “Ons het letterlik twee dae gehad om doeke, ‘n bababedjie, ‘n stootwaentjie en klere te kry. Ek kan nie eers onthou wat ons alles in daardie twee dae moes uitgerig kry nie!”
“Ons het besluit ons gee dit ‘n kans. Die Here het haar oor ons pad gestuur en dis nie net sommer dat ons haar kon aanneem nie.”
Tanya sê sy het nog nie gedink aan die moontlikheid dat haar babatjie se biologiese ma wel op haar voete kan kom nie. “Dit sal vir ons ‘n voorreg wees om haar by ons te kan hou.”
Tanya en haar man het hulle dogtertjie op Valentynsdag verlede jaar gekry.
“My raad aan ander aanneemouers is om dit ‘n saak van gebed te maak. Dis nie ‘n maklike pad nie en ‘n mens moet baie geduld hê! Baie mense sê sy is so gelukkig om by ons te kon beland, maar wat baie nié weet nie, is dat óns eintlik die gelukkiges is om haar te kon kry.”
Volg FiND iT hier op Facebook.



