Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se gewildste vroulike kunstenaars, se hart is stukkend nadat Theuns Jordaan ongeveer twee weke gelede sy jaarlange stryd teen leukemie verloor het.
Du Plessis en Jordaan, wat vir meer as ‘n dekade lank saam gesing het, het verskeie treffers soos Bring Jou Hart, Dowwe Spore en Ek Sal uitgereik.
“My hart is stukkend… en ek sukkel om woorde te kry… maar ek weet daar is baie oproepe en mense wat vrae het…
Ek dink ons almal weet Theuns was ‘n baie private mens en ek wil dit graag respekteer. Daarom voel ek dis nie nodig om alles “in detail” te bespreek nie.
Hy was soos ‘n broer vir my, een van my jarelange beste vriende. ‘n Ware gentleman wat my altyd met die grootste respek behandel het. Hy was altyd reg met ‘n grappie, bereid om te help en het gestaan vir regverdigheid en eerlikheid. Hy was ‘n fenominale ‘monument’ vir Afrikaanse musiek en sy musiek en stem sal voortleef in ons harte en huise.
Ek weet dit was ‘n verskriklike moeilike en soms alleen aardse pad vir hom. Omtrent niemand is naby hom toegelaat na Covid nie, en dis wat my hart die seerste maak.. maar ek weet ook hy het hierdie pad nooit alleen geloop nie. Jesus was langs hom met élke tree en hy het dit geweet. Die afgelope jaar kon ek hoor en ervaar hoe sy verhouding met die Here gegroei en verdiep het, en alhoewel my hart baie seer is, is dit hiérdie wete wat my rustigheid en vrede gee. Soos ek hier lê en luister na die reën wat buite val, ervaar ek hoe God sy aardse seer en pyn kom wegwas, en hom met groot blydskap en vreugde in sy nuwe hemelse huis verwelkom!
Theuns my ‘maaikie’… Jy was so dapper en het so hard baklei tot die einde toe!
Ek gaan jou geweldig baie mis…
Ons het so baie spesiale memories gemaak deur die jare en ek hou en koester elke oomblik en elke liedjie saam met jou vir ewig in my hart. Jou stem in my ore sal nooit stilraak nie! Ons gaan nie weer die voorreg hê om langs mekaar op die verhoog te staan hier op aarde nie, maar ek sien uit om in die lewe hierna weer saam met jou te sing!
Soos ons laaste liedjie sê…
Jy’s die stem in die stilte wat agterbly
Na al die storms en die reën om my
Tot ons mekaar weer sien, rus sag in Jesus se arms… x
Baie sterkte aan sy familie en geliefdes in hierdie moeilike tyd,” skryf Juanita du Plessis op haar sosiale platforms.
Volg FiND iT hier op Facebook.







