Lê strenger inperking die feesseisoen vir Suid-Afrika voor? Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het gister in ’n verklaring gesê gesondheidswerkers sowel as staatsamptenare sal volgende week vergader om ’n moontlike strenger inperking te bespreek.
Phaahla het voortgegaan om te sê die regering volg steeds sy risiko-aangepaste benadering in die hantering van inperking en sal by vorige maatreëls hou as wat daar by die vorige Covid-19-golwe toegepas was.
Tyd nodig om oor inperking te besluit
“Die regering het ’n bykomende week nodig om die statistieke van Suid-Afrika se vierde Covid-19-golf en die impak van die Omicron-variant te monitor. Die vinnige toename in gevalle en die vlak van hospitalisasies sal bepaal watter maatreëls ingestel mag word.”
Hy het bygevoeg dat dit nie net ’n regeringsbesluit is nie en dat Suid-Afrikaners ’n rol het om nie-farmaseutiese ingrypings te volg om verspreiding en infeksies te verminder.
Phaahla het gesê die regering sal selfs regulatoriese beperkings kan verminder as mense aanhou om maskers te dra en binnenshuise byeenkomste vermy. Hy het gevra vir ’n vermindering van jaareindpartytjies en gesê dat byeenkomste in die buitelug gehou moet word.



