Theuns Jordaan is Vrydag roerend gegroet en duisende mense van regoor die land het na die regstreekse uitsending van die roudiens gekyk.
Stanley Cierenberg, digter en ook bekend as aktivis teen plaasmoorde, het ‘n gedig vir Willie, Theuns se pa, geskryf.
VIR OOM WILLIE JORDAAN (Stanley Cierenberg)
2021-11-26
Al die engele was daar, daar by Oom
al die mense was ook daar… by Oom
Ek sit by my tafel en trek laaie oop,
op soek na trooswoorde, maar hoe
troos ’n mens dan nou…Hoe troos mens
Oom Willie se stadig praat het ons
mense se siele en harte diep gevat
Oom Willie se kyk het ons mense
se oë nat laat word van die huil
Maar al die engele was daar…
Oom Willie hou die handgeskryfde
notas in sy twee boere-hande vas,
asof hy Theuns se hand homself hou.
Oom se woorde is doeksag op my hart
Selfs Violet en Florrie het stofpad-sand
van die plaaspad saamgebring en by
Oom Willie se voete kom strooi, agting…
Die lang stiltes tussen Oom Willie se sinne
het die stilte in ons as mens kom sit, stil
word vir die groot respek, groot aansien.
Stil word voor God en die engele, hulle was daar.
Net soos Theuns die bangeit uit ons uit sing,
so praat Oom Willie stadig, eerbiedig
die bang uit ons uit…
maar….
{langs stilte}
Toe sing Oom Willie jou seun se woorde “Soos Bloed”
vanuit die diepste kamer van ’n pa se hart uit…
en die rooi das en sakdoekie sê KLOU VAS.
Maar dis Tjaailatyd, Oom Willie en ek salueer vir Oom
met elke stukkie krag wat in my lyf is, Ek salueer vir Oom
Want al die Engele was daar, ek het hulle gesien in die
spierwit rose.
Volg FiND iT hier op Facebook.
Luister hier na Steve Hofmeyr se koebaailiedjie vir Theuns.



