GQEBERHA. – Twee jong studente, albei 19 jaar oud, aan die Nelson Mandela-universiteit, het die naweek tydens ‘n byeenkoms in die see by Sardiniabaai verdrink.
“Die South African Students Congress (SASCO) aan die Nelson Mandela-universiteit is diep bedroef oor die nuus van die tragiese heengaan van die twee studente tydens ‘n studentegeleentheid wat Saterdag op die strand van Sardiniabaai, Gqeberha, gehou is,” het SASCO in ‘n verklaring gesê.
Studente verdrink, man se liggaam nog nie gevind nie
Volgens Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, is dit nie duidelik wat gebeur het toe die manlike en vroulike student verdrink het nie. Die vrou het na bewering gesukkel om terug te swem strand toe. Sy is uit die water gered, maar op die toneel dood verklaar. Die man is nog nie gevind nie.
SASCO nooi ander studente wat teenwoordig was op die toneel en verwante ooggetuies uit om die polisie en die Emergency Sea Rescue Services (ESRS) in te lig met enige vorm van inligting wat hulle mag hê.
“Boonop doen ons ‘n beroep op die Universiteit om alle studente wat op die toneel was en diegene wat geraak is, te help met berading en aanvullende ondersteuning.”
LEES OOK: ‘Ons gaan haar kry, ons moet haar kry,’ sê vermiste 4-jarige se ouers
LEES OOK: Curro Heuwelkruin-leerders kniel en bid vir boeties se veiligheid
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



