DURBAN. – Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het die reeksverkragter Bongani Mokoena (36) skuldig bevind en tot vyf keer lewenslank tronkstraf op vyf aanklagte van verkragting gevonnis. Mokoena is ook 30 jaar vir twee aanklagte van roof, nege jaar vir drie aanklagte van ontvoering en drie jaar gevangenisstraf vir aanranding met die doel om ernstig te beseer, gevonnis.
Volgens kapt. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, het die verkragtings tussen 10 Augustus 2018 en 18 Oktober 2018 in die Mountain Rise-omgewing plaasgevind waar hy slagoffers tussen 14 en 33 jaar oud geteiken het.
Reeksverkragter sleep slagoffers na bosse
Sy modus operandi was om slagoffers te lok wat in die omgewing rondgeloop het en werk gesoek het. Hy sou hulle vertel dat sy werkgewer ‘n huiswerker soek om hom by sy huis te help. Die slagoffer het Mokoena dan geglo en hom gevolg na die genoemde werkgewer. Terwyl hulle loop, het hy dan die slagoffer oorval, haar by die bosse ingesleep, aangerand, verkrag en van haar besittings beroof.
“Mokoena het twee slagoffers met ‘n voorwerp gesteek wat die voorval oorleef het. Hulle is na die hospitaal geneem vir mediese sorg. Sake is by die Mountain Rise-polisiekantoor geopen en die dossier is na Pietermaritzburg se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe oorgeplaas vir verdere ondersoek.”
Die beskuldigde het gehoor dat die polisie na hom soek en het probeer wegkruip. Die ondersoek het die polisie na Masukwana in Pietermaritzburg gelei waar die beskuldigde in hegtenis geneem is. Hy het verskeie hofverskynings gemaak totdat hy skuldig bevind en gevonnis is.
LEES OOK: Vrou steek man se ‘skelmpie’ met eetlepel
LEES OOK: Man hang vrou, laat lyk soos selfdood
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



