Rusty, ‘n oulike boerboel-teef en “gidshond” vir Ellen Fritz, het dringend die gemeenskap se hulp nodig om R1 200 vir ‘n nodige operasie te betaal.
Ellen Fritz (58) moes verlede jaar byna weens finansiële omstandighede van haar beste vriend van sewe jaar afskeid neem, maar Kimberliete het vinnig saamgestaan en die nodige fondse ingesamel om dit te voorkom. Klik hier vir die vorige artikel.
Fritz is blind gebore en is weens ‘n ongeluk in 1984 gedeeltelik doof. Sy moes haar gidshond onlangs opgee en Rusty, ‘n boerboel-teef, is vir die afgelope agt jaar haar beste vriend.
Rusty, wat sedert sy saam met Fritz in haar nuwe tuiste woon, dolgelukkig was, het onlangs begin sleg voel.
Sunette Niemann, ‘n vriendin van Fritz, vertel Rusty het net sleg begin eet, sleg begin voel en ‘n opgeswelde klier aan haar sy gekry. “Hulle het haar toe na die veearts geneem, wat kon vasstel dat sy baarmoederinfeksie opgedoen het. Dié toestand kan fatale nagevolge hê en daarom moes Rusty so gou as moontlik die operasie kry.”
Die veearts het Fritz en Rusty tegemoetgekom en gesê dat hy dié dringende operasie vandag op Rusty sal doen, en dat hulle die R1 200 vir die operasie kan betaal sodra hulle dit het.
“In hierdie stadium is daar nie fondse daarvoor nie,” sê Niemann. “Ellen ontvang ongeskiktheidspensioen omdat sy blind is en daarom sal sy dit nie kan bekostig nie.”
As enigeen dit in hulle harte voel om vir Rusty ‘n bydrae te lewer vir die operasie, kontak vir Sunette by +27 72 686 5663 vir enige navrae of bankbesonderhede.





