Namakwalandse delwers vasgekeer, 10 dood

Deel hierdie storie / Share this story

Weereens het ‘n mynongeluk ‘n arm gemeenskap diep in donkerte en rou gedompel.

Dié keer was die mynongeluk by Nuttabooi, waar vermoedelik ongeveer 10 mense Woensdagoggend in ‘n uitgewerkte myntonnel omgekom het.

Volgens bronne na aan die ongeluk het talle delwers, sonder permitte, weer in die tonnels van die ou De Beers-myne naby Komaggas, gaan delf. Verskeie tonnels het inmekaargesak en die delwers toegegooi.

“Dit is nie seker hoeveel mense omgekom het nie, maar ons vermoed tussen vyf en 10,” volgens die bron.

Niemand is tans seker hoeveel mense nog vasgekeer is en of daar nog enige oorlewendes is nie. Volgens inwoners van daar is dit ‘n baie ruwe en ontoeganklike area.

Nadat die nuus op sosialenuusplatforms gebreek het, was daar ongekende reaksie en boodskappe van bemoediging aan die families van die slagoffers.

Baie inwoners voel dat armoede weer hier n rol gespeel het. Ander voel dat die delwers permitte moet kry, dan sal hulle nie onwettig diamante gaan delf nie. Verder is daar mense wat voel dat die groot mynhuise, soos De Beers, die diamantryke grond aan die plaaslike inwoners terug moet gee.

Dawid Markus is ‘n vurige aktivis vir die regte van die diggers, soos hulle hulleself noem. Hy het juis onlangs ‘n nuwe politieke party gestig om die saak van die diggers te bevorder. Hy het Donderdagoggend hartseer gesê:

“Ons kan bevestig dat n onbekende getal mense toegeval het by die Nuttabooi-myntonnels. Die mense wat hier by Nuttabooi en Bontekoe is, is baie getraumatiseerd. Ons sal ook nou probeer om ‘n gesamentlike operasionele sentrum op te rig om hulle te ondersteun. Nuwe inligting sal later deurgegee word.”

Cyril Warne, van Komaggas en burgemeesterskandidaat van die Patriotic Alliance, het vertel dat die tonnels al ‘n week gelede begin inval het. Hy het ook genoem dat daar ongeveer 20 tonnels binne ‘n 800 m radius is. Volgens hom delf tot 170 mense soms op ‘n slag ondergronds.

“Die tonnels het tussen Woensdagoggend tussen 7:00 en 8:00 inmekaargestort. Ek is teleurgesteld dat daar egter eers Donderdagmiddag reddingspanne na die toneel gestuur was.“

Luidens ‘n mediaverklaring van die Nama Khoi-munisipiteit op Springbok gaan die opersionele sentrum versterk word. Verder sal die toneel beveilig word sodat reddingswerk kan begin.



*In Mei 2012 was verskeie delwers ook by die nabygeleë Bontekoe-myn deur sand, klippe en rotse toegeval. Dit is nie bekend hoeveel toe gesterf het nie, maar 10 liggame (waaronder twee Adams-broers van Nababeep) is later gevind.

[metaslider id=120961 cssclass=””]