October 18, 2021

Hond met die groot bruin onseker oë 15 km buite Kimberley

Sy is veilig by Kimberley-DBV en kan oor 12 dae aangeneem word.

Hond met die groot bruin onseker oë 15 km buite Kimberley

Hond met die groot bruin onseker oë 15 km buite Kimberley

KIMBERLEY. – Vicky Welman-Gerber vertel van die dag wat haar hart begin bloei het toe sy ’n foto en inskrywing op Facebook van die bruin, maer, bang hond ver alleen buite Kimberley, gesien het. Sy was dadelik vasbeslote om vir haar ’n ’n tweede kans op lewe en liefde te vind.

“Ek het Yolande van Dyk se post vanoggend raakgesien op Saam Staan Lost Pets (Kimberley) en meer inligting aangevra.”

Foto: Die inskrywing wat Vicky gesien het.

Kimberly DBV het ‘n presiese ligging vir haar gevra, want mens kon nie veel op die foto sien nie. Dit was net bekend dat sy 15 km uit op die Griekwastad-pad was, maar niks verder nie. Vicky het dadelik weer op haar selfoon gespring.

“Ek het gesien Ivanda Geldenhuys Hunt het Yolande bedank dat sy die inskrywing gedoen het. Toe stuur ek dadelik vir haar ‘n direkte boodskap.”

Vicky, ’n vrou wie se hart wawyd oop staan vir enige hond in nood, sê sy was besig met een van die honde wat sy help voer op Barkley Road en besluit toe sy gaan eerder ry en kyk.

“Ek sal later teruggaan. Ek ry in die rigting waar die hond veronderstel is om te wees. Ek sien die hakiesdraad, boom en groot klip wat op die foto was. Ek bel toe vir inspekteur Ravi by Kimberley DBV en maak net seker of hy nie dalk al die presiese ligging gekry het van waar die hond is nie.”

Hond 15 km buite Kimberley gevind

Foto: Waar sy gelê het.

Ivanda laat haar toe weet Yolande het gesê die hond is aan die linkerkant by ‘n stop. Vicky ry verder en soek na die stop. Toe sy aftrek, lê die bang bruin hond daar en kyk vir haar.

“Ek gryp my foon en stuur vir Ravi die ligging. Ek neem die vangharnas, ’n worsie en loop stadig na haar. Ek praat mooi en gaan sit naby haar. Sy was baie honger. Sy het al nader begin gekruip. Ek het so ‘n ruk daar gesit en sy het my begin aanvaar terwyl ek haar koppie en nek streel. Sy het my dopgehou met haar groot, bruin, onseker ogies. Ravi bel en vra of hy kan kom help, maar ek laat hom weet ek sal haar kan veilig kry.”

Foto: Die twee ontmoet mekaar vir die eerste keer.

Die hond het dit geniet terwyl Vicky heeltyd saggies met haar gepraat het en haar gevryf het. Sy eet die worsie en dis toe dat die harnas om haar nek glip sodat sy nie kan weghardloop nie.

“Sy drink twee bakke water op en toe is dit sulke tyd. Ek haal ‘n handdoek uit en maak haar toe en laai haar in die motor. Sy gaan lê en ek sit vir haar die verkoeling van die motor aan. Haar tieties lyk half groot, maar haar lyfie is so dun, so ek wonder of daar babas is. Ek maak haar toe in die kar en maak net seker daar is nie babas daar nie. Ek kry niks.”

Vicky klim terug in die motor. Nou is dit die pad terug Kimberley toe.

“Sy lyk bang. Een hand op haar en een hand op die stuurwiel. Ek moes toe eers my jongste seun by die skool kry. Ek het klaar agtergekom sy is baie lief daarvoor as mense haar ore krap.”

Foto: Sy sit in die verkoelde motor.
Foto: Vicly klim by haar in die motor.

Vicky se seuntjie klim in die motor by die skool en Vicky let op sodra haar seun begin gesels, wil haar stertjie nie ophou waai nie. Op die pad DBV toe kry sy baie aandag en bederfies.

By die DBV sit hulle haar in hok I8 en probeer haar gemaklik maak.

“Sy lyk ouer as wat sy is. Haar tande lyk nog jonk. Sy is so groot soos ‘n langbeen medium Jack Russell. Ligbruin van kleur.”

Vicky kan nie uitgepraat raak oor hoe liefdevol die hondjie is nie. “Oorkrappe en soene is haar gunsteling.”

Sy is skaam as sy jou ontmoet, maar sodra sy agterkom jou hart en hand is sag, vreet sy al die liefde op en gee meer terug.

“Sy is veilig by Kimberley-DBV en kan oor 12 dae aangeneem word. Eienaars het 12 dae om hulle diere te eis met positiewe bewyse van eienaarskap soos foto’s, video’s, inentingskaart, ens. Hulle moet ook bewys van adres en ID wys.”

As niemand na vore kom vir haar nie en sy is gesond, kan sy aangeneem word. Vicky smeek dat iemand haar ’n huis moet gee. “Sy verdien dit na wat sy al deur is.”

Indien jy die hond ‘n liefdevolle huis kan bied, bel Kimberley DBV en volg die nodige prosedure.

LEES OOK: 1 November nou amptelik ‘n vakansiedag

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *