14-maande oue baba kritiek na motor teen boom bots

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG. – ‘n Vrou is dood en ‘n 14 maande oue baba is kritiek beseer toe die motor waarin hulle en ‘n man gery het gisteraand teen ‘n boom langs die R54 in Vaal Marina gebots het.

ER24 sê in ‘n verklaring hulle paramedici het kort na 19:00 op die toneel opgedaag. ‘n Motor is regop teen ‘n boom langs die pad gevind. Die provinsiale brandweerdienste het toe reeds ‘n man, vrou en baba uit die motor gehaal. Paramedici het die insittendes ondersoek en gevind dat die vrou en die 14 maande oue babameisie talle beserings opgedoen het en in ‘n kritieke toestand was. Die man het geen beserings opgedoen nie.

Gevorderde lewensondersteuningsintervensies is op die vrou en baba toegepas. Nadat hulle behandel is, is die twee beseerdes na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere sorg geneem.

Die vrou het op pad na die hospitaal aan haar beserings beswyk. Die besonderhede rakende hierdie voorval is onbekend, maar die plaaslike owerhede was op die toneel om verder ondersoek in te stel.

LEES OOK: SKERMGREPE: 17-jarige deur boer doodgeskiet

LEES OOK: ‘Jesus was langs my bed’ – Hanna vertel van geboorte toe sy amper sterf

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.