Die Shell-garage in Longstraat is genomineer as een van die besighede in die stad wat die beste kliëntediens lewer. Hulle petroljoggies word as vreeslik vriendelik en baie behulpsaam beskryf. Hulle staan altyd gereed om jou motor se voorruit te was en gou vir jou by die winkel in te hardloop terwyl jy brandstof in jou motor gooi.
Shell is nie net ’n petrolstasie nie, maar ook ’n familiebesigheid. Die gesamentlike eienaars, Frikkie van Niekerk (74), Frikkie (jr.) van Niekerk (40), Rosa Heymans (46) en Stepan van Niekerk het die besigheid in 1999 geopen.
Stephan vertel hulle werknemers is deur en deur wat die besigheid ’n sukses maak.
“Ons het regtig ’n wonderlike span mense wat altyd bereid is om hard te werk. Dit is hulle bereidwilligheid en gesindheid wat maak dat dinge vlot verloop. Hulle het ons laasjaar deur ’n baie moeilike tyd gedra. Ons is so bitter trots op hulle.”
Stephan sê soos met enige ander besigheid kan daar so nou en dan ’n foutjie of ’n ongelukkige kliënt inglip, maar hulle waardeer elke persoon wat hulle ondersteun.
In die foto: Piet Tlhageng, Mpho Maklolokwa, Vincent Bakai, Gordon Nkukane, Lebogang Prins, Tshiamo Gabonewe, Hilton Maloney, Michelle Dube.



