KWAZULU-NATAL. – ‘n Paramedikus is vroeg gisteroggend dood nadat sy en haar kollega agterin ‘n ambulans aangeval is waar hulle ‘n pasiënt voorberei het om na ‘n hospitaal te neem.
Nomagugu Simelane, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, het die voorval wat gelei het tot die dood van Phumzile Dlamini (40) en ma van drie, as barbaars beskryf.
‘n Verklaring wat deur die departement uitgereik is, lui dat ‘n persoon in sy huis in die Mabhanoyin-omgewing, naby Estcourt, geskiet is. Die paramedici het reeds ‘n pasiënt wat ‘n beenbreuk opgedoen het, opgelaai toe hulle na die woning van die gewonde man moes ry.
“Nadat hulle hom gehelp het, het hulle skielik geweerskote van buite af gehoor. Dlamini is twee keer raakgeskiet en op die toneel dood verklaar. Haar kollega, wie se naam nie bekendgemaak mag word nie, is deur drie skote getref en is na die hospitaal geneem, waar hy in ‘n kritieke toestand is.”
Nie een van die skote het die twee pasiënte in die ambulans getref nie.
LUR veroordeel voorval na dood van paramedikus
Simelane het die voorval verder ten sterkste veroordeel. Sy het haar meegevoel met die Dlamini-familie betuig en ‘n beroep op wetstoepassers gedoen om alles moontlik te doen om die oortreders vas te trek.
“’n Voorval soos hierdie laat die hare rys. Dit is barbaars, lafhartig en heeltemal skokkend. Dit is ‘n sterk teken dat iets in ons samelewing lelik skeefgeloop het. Onskuldige mense, wie se verantwoordelikheid dit is om lewens te red, word aangeval en vermoor.”
Dlamini word oorleef deur ‘n dogter van 21 jaar oud wat tans heeltyds studeer, asook twee seuns van 19 en 12. Sy was getroud en het tien jaar by die departement gewerk.
“Maar dit is nie die eerste keer dat ons paramedici op hierdie manier aangeval word nie. Voorvalle waar paramedici na noodtonele geroep word, net om beroof en aangeval te word, of blootgestel te word aan verskeie ander vorme van geweld en vyandigheid, het algemeen geword. Dit moet regtig stop. Daarom doen ons ‘n beroep op ons gemeenskap om hierdie hartelose boewe te isoleer en bloot te stel.”
Die departement doen ‘n beroep op mense om met enige inligting na vore te kom wat tot die verdagtes se inhegtenisneming kan lei.
“Ons wil regtig nie ‘n situasie hê waar ons paramedici weier om snags te werk nie, want dan sal mense sterf wie se lewens gered kon word. Dit is dus in ons almal se belang dat geregtigheid geskied en dat paramedici te alle tye beskerm word.”
LEES OOK: SKERMGREPE: 17-jarige deur boer doodgeskiet
LEES OOK: Video waarin boer glo 17-jarige doodgeskiet, versprei soos veldbrand
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



