JOHANNESBURG. – ‘n Polisievrou, sers. Sharon Mogale (45) en ma van drie kinders, is dood toe sy saam met haar kollega, sers. Mapule Petje, in ‘n winkel aangeval en in die kop geskiet is. Albei is van hulle dienspistole beroof.
Volgens Lirandzu Themba, polisiewoordvoerder, het vier verdagtes na bewering die winkel in Tembisa binnegaan toe die twee vroue besig was om inkopies te doen.
“Die verdagtes het beampte Mogale in die kop geskiet voordat hulle met albei die dienspistole van die twee beamptes weg is. Petje is nie tydens die aanval beseer nie.”
Cele geskok na polisievrou in kop geskiet is
Bheki Cele, minister van polisie, het saam met die bestuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens Vrydag ‘n troosbesoek aan die familie van die oorledene gebring.
Die polisiediens is veral geskok dat hierdie gewelddadige voorval tydens Vrouemaand gebeur het, ‘n maand waarin vroue en die rol wat hulle in die geskiedenis gespeel het en steeds in die samelewing vervul, gevier word.
“Hierdie misdadigers het dit beplan, hulle het hierdie lede bekruip, hulle aangeval en ontwapen van hul pistole. Hulle het een van ons eie vermoor, ‘n vroulike beampte wat ‘n aktiewe lid van die polisiediens en die gemeenskap was.”
LEES OOK: Bloed in vermiste Louis de Villiers se bakkie gevind
LEES OOK: KYK: Nando’s dryf spot oor ‘tienling’ in nuwe video
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



