Microneedling – dalk die oplossing vir jou velprobleme?

Deel hierdie storie / Share this story

Almal sal alles in hulle vermoë doen om hulle vel mooier te laat lyk. Daar word geld op allerhande roompies spandeer en die velsorgroetine word net al hoe langer. Het jy al microneedling probeer?

Carzel Botha, skoonheidsterapeut by ‘n bekende skoonheidsplek in Kimberley, het al die algemene vrae oor microneedling geantwoord. Om te begin, moet ons weet wat presies is microneedling en waarom laat doen mens dit.

“Microneedling is ‘n prosedure wat mikro-kanaaltjies in die epidermis (boonste lagie van die vel) maak deur middel van fyn naalde. Enigiemand wat die kwaliteit van hul vel wil verbeter, kan dit definitief oorweeg. Behalwe persone met aktiewe akneë, hipersensitiewe velle en persone wat op voorgeskrewe medikasie soos kortisoon en Roaccutane is.”

Microneedling hou verskeie voordele vir jou vel in. Dit:

  • stimuleer selproduksie.
  • stimuleer kollageen en elastienaktiwiteit.
  • verbeter absorpsie van aktiewe bestanddele in serums en rome.
  • verbeter voorkoms van pigmentasie, veroudering en vergrote porieë.

Baie sal dalk dink dat dit ‘n pynlike proses is, aangesien dit met fyn naalde gedoen word. Volgens Carzel is dit meer gevoelig as seer.

“Die vlak waarop gekwalifiseerde skoonheidsterapeute mag werk, is nie van so ‘n aard dat dit onuithoudbaar vir jou kliënt moet wees nie. Maar dit wissel van kliënt tot kliënt afhangende van hul pyndrumpel.”

Carzel beskryf die behandeling soos ‘n oefenprogram. Sy sê die resultate neem tyd en een sessie is nie altyd genoeg nie. Volgens haar word ‘n kursus van ses sessies aanbeveel, afhangende van die vel se kwaliteit en geskiedenis. Dié kursus sal jou die beste resultate gee.

Direk na die behandeling kan rooiheid, sensitiwiteit en kriewelrigheid verwag word, maar dit kan ook wissel van persoon tot persoon.

“Al hierdie ‘nagevolge’ is as gevolg van die stimulasie van die behandeling en duur op die langste tot en met twee dae na die behandeling. Jy kan wel die volgende dag na die behandeling grimering aansit, alhoewel ons aanbeveel dat jy so lank as moontlik sonder grimering gaan.”

So staan daardie 45-60 min. af en laat jou vel weer blink!

LEES OOK: Wiskunde – geen probleem te groot vir Daniel nie

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.