Jayden Pieterse, wat op driejarige ouderdom met nie-verbale outisme, tasbare sensitiwiteit en Asperger-sindroom gediagnoseer is, se lewe het onherroeplik verander toe die gidshond Pepper in Julie 2020 deel van sy lewe geraak het.
Rozel Pieterse, Jayden se ma, vertel van die pad wat sy en haar gesin tot nou toe gestap het.
“Jayden se geboorte was baie ingewikkeld. Hy was ‘n micro preemie, die term wat gebruik word vir babas wat voor 26 weke gebore is. Hy het gedurende sy geboorte ook beserings opgedoen en moes in die NICU bly totdat hy genoeg gewig opgetel het.”
Pieterse sê sy het gou agtergekom dat Jayden anders is as haar eerste twee seuns.
“Hy het nie sy mikpunte gehaal nie,” vertel sy. “Hy het nie oogkontak gemaak nie en hy kon ook nie kruip nie. Toe dit tyd was vir hom om gewone kos te begin eet, het hy ook geen belangstelling daarin getoon nie. Hy was ontsteld wanneer ek vir hom skoene probeer aantrek het of selfs sokkies aan sy voete het hom geïrriteer.”
Jayden het ook dadelik agtergekom wanneer sy daaglikse roetine nie presies dieselfde was as al die ander dae nie en hy het volstrek geweier om met iets voort te gaan tot sy gewone roetine nie gevolg word nie.
Rozel vertel dat dit vir haar ‘n reuse uitdaging was om die balans te vind tussen om vir Jayden sy gewensde vryheid te gee en om hom veilig te hou.
“Jayden het geen vrees nie en verstaan nie die konsep van gevaar nie,” sê Rozel. “Ek kon sien dat hy graag op sy eie wou loop en hardloop, maar ek kon hom vir sy eie veiligheid nie alleen los nie.”
Rozel het na ‘n oplossing gesoek en het toe op ‘n video van ‘n meisie met ‘n gidshond afgekom. “Ek was stomgeslaan oor die verskil wat die gidshond in haar lewe gemaak het en oor hoe haar gesin se lewe na normaal kon terugkeer. Ek het geweet ‘n Autism Support Dog sal Jayden die vryheid gee wat hy so graag wou hê.”
Die gesin het met die SA Guide-Dogs Association kontak gemaak en Pepper het by hulle gepas.
“Ons was so opgewonde om Pepper in ons lewens te verwelkom.”
Rozel het twee weke se opleiding ontvang waartydens sy Pepper leer ken het en geleer het hoe om aan hom opdragte te gee.
“Pepper se teenwoordigheid het so ‘n reuse verskil in Jayden se lewe gemaak,” sê Rozel. “Hy het meer begin praat en hy geniet dit so om vir Pepper te sê ‘sit’ en hom dan te beloon.”
“Pepper is meer as net ‘n hond. Hy bied kameraadskap en vriendskap, sonder enige verwagtinge of druk. As ek weet Jayden is by Pepper, kan ek gerus wees om hom meer vryheid te gee. Ons sal Pepper en die SA Guide-Dogs Association ewig dankbaar wees vir die ongelooflike geskenk – om te sien hoe ons seun sy lewe ten volle geniet!”



