Mans en hulle speelgoed

Deel hierdie storie / Share this story

Wanneer jy by dié werkswinkel instap, sien jy eers net uitmekaar karre wat die wêreld vol rondstaan. Dit is eers wanneer jy bietjie begin rondkyk dat jy die breë wiele en die uitmuntende afrondingswerk sien.

Unieke motors

Bobby Brewis (42) van BB Performance, man vir Bella en pa van twee dogtertjies, bou al die laaste 18 jaar gespesialiseerde “speelgoed” vir dié wat hou van spoed en unieke motors.

Oorspronklik van Welkom, het hy in 2015 na Kimberley verhuis. Bobby en sy vrou, Bella, is al vir 12 jaar getroud.

Hy het ook in ‘n stadium resies gejaag, aan off road-wedrenne deelgeneem en was selfs deur Ken Block na Gymkhana Grid genooi. Hy het ook vir Redline Nissan Motorsport met ’n plaaslike wedren gehelp.

Kliënte regoor die wêreld

Hy hou homself egter rustig die laaste tyd en konsentreer daarop om gespesialiseerde motors vir kliënte in Dubai, Egipte en Amerika te bou. Hy het ook ’n paar kliënte regoor Suid-Afrika.

“Ons bou speelgoed vir ’n baie eksklusiewe mark. Ons bou alles, badge to badge. Als vanaf die grills, bumpers, interior, suspension, engines, tot by die bakwerk – word custom en in-house gedoen.”

Hy haal dan ’n plastiek-bedekking van ’n motor sonder ’n enjin af en wys waar hulle al die afrondingswerk, lasplekke en onnodige gaatjies op die kar se bakwerk, waar die enjin moet inkom, perfek oorgedoen en herstel het. Soveel so dat mens nie eers een lyntjie kan sien nie.

Spesialiseer in 2JZ-enjins

Bobby gaan voort om te vertel hulle doen ook vacuum carbon-werk en bedrading.

“As jy ’n idee het, ons kan dit bou. Ons is 2JZ-spesialiste en daar is tans 32 van die 2JZ-enjins waaraan ons werk.”

Hy wys dan ook na ’n Toyota Supra waaraan hulle tans werk en sê dit is ’n versamelaarsitem.

As jy van gespesialiseerde motors hou, sal dié wat in Bobby se werkswinkel staan, definitief jou bloeddruk opjaag!