Wiskunde het meeste van ons opdraande gegee op skool, maar vir die 16-jarige Daniel Goncalves, graad 10-leerling by St. Patricks’s CBC KImberley, kan jy niks vertel van syfers en somme nie.
Dandre, Daniel se ma, vertel hulle het altyd geweet Daniel het ‘n aanleg vir wiskunde. “Alhoewel ons al voor skool gesien het hy het ‘n talent om wiskunde te doen, het hy werklik in graad 4 begin uitblink.”
Sy vertel in graad 4 het Daniel dagkampe vir wiskunde begin bywoon en hy het werklik uitgestaan. Soos ander ouers se kinders presteer in sport, het Daniel wiskunde sy “sport” gemaak en die ekstra moeite ingesit om op sy beste te presteer.
“Daniel het daarna ekstra verrykende wiskundeklasse by ‘n vrou hier in Kimberley gedoen. Hy het ook deurlopend aan olimpiades deelgeneem.”
In graad 7 het hy gekwalifiseer en die geleentheid gekry om na Hong Kong te reis om daar aan ‘n wiskundekompetisie deel te neem. In Graad 9 het hy weer gekwalifiseer om na Indonesië te gaan, maar as gevolg van Covid-19 is daardie kompetisie uitgestel.
Daniel berei nou voor om aan die einde van Julie aanlyn aan die Indonesiese internasionale wiskundekompetisie deel te neem. Die kompetisie gaan by Jim Fouche in Bloemfontein gehou word. Dandre vertel alhoewel dit aanlyn gehou word, is dit baie streng. Daar is talle kameras wat op die deelnemers gerig word om seker te maak niemand is oneerlik nie.
Soos met enige ander sport sit Daniel ure se oefening in. Die internasionale wiskundekompetisie gee wel vir hulle ‘n rooster waarby hulle moet hou. Dit wissel van weeklange kursusse in Bloemfontein tot ure se somme uitwerk.
Daniel beplan om na skool robot-ingenieurswese te studeer.
“Hy kry definitief sy talent van sy pa af. Ons is so ongelooflik trots op hom.”
LEES OOK: Boipelo Awuah se eerste Olimpiese Spele kortgeknip
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



