Shanté (9) raakgeskiet tydens skietgeveg tussen bendes

Deel hierdie storie / Share this story

KAAPSTAD. – Shanté Abrahams (9) veg tans in die hospitaal vir haar lewe nadat sy in Scottsdene raakgeskiet is in wat vermoedelik ‘n skietgeveg tussen bendes was.

Volgens IOL is Shanté en ‘n 30-jarige vrou tydens die skietgeveg gewond, terwyl ‘n 20-jarige man dood is.

Willem Hartnick, ‘n gemeenskapsaktivis, sê Shanté het meters van haar huis langs die 20-jarige man gestaan. Die man was besig om in ‘n gemeenskapstuin te werk. Die gemeenskapstuin is daarop gemik om die jeug weg te hou van bendes af.

Shanté is raakgeskiet terwyl sy gewag het vir haar netbaloefening om te begin

“Sy het gewag vir haar netbaloefening om te begin toe die skote afgevuur is. Sy is tans nog in die hospitaal waar hulle wag om te opereer. Die koeël het haar in die nek getref en nou moet hulle wag totdat die swelling afneem voordat hulle kan opereer. Sy is tans in ICU” het Hartnick gesê.

FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig ‘n saak van moord en twee pogings tot moord word ondersoek.

“Kraaifontein-SAPD ondersoek ‘n moord en twee pogings tot moord ná ‘n skietvoorval in Ashley Court, Parklaan. Beide beseerde slagoffers is na nabygeleë hospitale geneem vir mediese behandeling. Die moontlikheid dat dit bendeverwant kan wees, sal ondersoek word, ”het Van Wyk gesê.

Robert Bissette, die voorsitter van die gemeenskapspolisiëringsforum, sê die skietgeveg was glo oor dwelmgebied gewees. Bissette sê onskuldige mense word beseer tydens hierdie bendegeweld. Ten spyte van die polisie se werk om die buurte veilig te maak, versteek van die inwoners steeds die misdadigers. Hy sê polisievoertuie word gereeld met klippe gegooi wanneer hulle op ‘n skietery reageer.

Enigiemand met inligting kan Crime Stop anoniem by 08600 10111 skakel.

Lees ook: Kraaifontein-gemeenskap geskok na talle gevalle van selfdood