Ouma van Kimberley vier haar 107de verjaarsdag

Deel hierdie storie / Share this story

Selina Mancwe, of beter bekend as Ouma, sê die sleutel na ‘n lang, gesonde lewe is om ander lief te hê, te respekteer en om gereeld kerk toe te gaan.

Ouma, saam met haar kinders en meer as 20 kleinkinders en agterkleinkinders, het op 24 Mei vanjaar haar 107ste verjaardag gevier. Haar kleindogter, Veronica, vertel hoe verskeie departemente en organisasies en familie by hulle bymekaargekom het om Ouma se 107de bestaansjaar te vier. “Net hier om die draai was ‘n ander vrou wat ook 100 geword het.”

Ouma is ‘n gebore Kimberliet en word tans deur twee van haar kleinkinders in haar huis in Galeshewe versorg.

Sy het voorheen vir jare as huishulp gewerk, maar Veronica vertel die familie het na Port Elizabeth verhuis. “Hulle het haar gevra of sy wil saamgaan, maar sy het gesê sy wil eerder hier bly. Haar familie is tog hier.”

“Sy het ‘n vol lewe gehad. Sy was maar ‘n kwaai ouma, hoor,” lag Veronica. “Sy het altyd hoë hakke gedra en nog nooit gedrink nie. Maar sy is vreeslik plat op die aarde. Sy het altyd vir ons gesê ons moet mekaar en ander liefhê en almal gelyk hanteer.”