Inwoners gewaarsku, man en huiswerker met vuurwapen beroof

Deel hierdie storie / Share this story

GQEBERHA – Die polisie in Gqeberha doen ‘n beroep op inwoners om op hul hoede te wees nadat ‘n 38-jarige man en sy huiswerker gisteroggend met ‘n vuurwapen beroof is.

Na bewering het die man omstreeks 08:15 wakker geword en die deur en hek vir sy huiswerker oopgemaak om in te kom. Hy het toe weer teruggegaan na sy kamer. Toe die huiswerker die deur wou sluit, het twee mans glo die erf ingehardloop en ‘n vuurwapen na haar gewys.

“Hulle het die huis binnegegaan en haar hande met kabels vasgemaak voordat hulle na die slaapkamer gegaan het en ook die man se hande en voete vasgebind het,” sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Man en huiswerker aangehou en beroof

‘n iPhone7, ‘n Sumsung-selfoon, twee skootrekenaars, ‘n Xbox, kontant en ‘n TV is geneem. Die verdagtes het na bewering in ‘v VW E250-voertuig van die huis in Godetiaweg gevlug.

Kabega Park-polisie ondersoek ‘n huisrooftog. Die polisie vermoed dat hierdie verdagtes verbind kan word met ‘n ander huisroof wat vroeër die week in Boundarylaan plaasgevind het, aangesien die modus operandi soortgelyk is. In die Boundarylaan-rooftog is ‘n Hyundai i10 geroof en is nog nie teruggevind nie.

Die polisie doen ‘n beroep op inwoners om oplettend en waaksaam te wees wanneer hulle deure, motorhuise en hekke op hul eiendom oopmaak of toemaak. Kyk altyd rond vir ‘n verdagte voertuig wat naby jou eiendom geparkeer is. Moet nooit wegstap sonder om te kyk of die hekke en motorhuisdeure heeltemal agter jou toe is nie.

Inwoners word ook aangeraai om op die uitkyk te wees vir die wit VW E250 en onmiddellik met die polisie in verbinding te tree as jy hierdie voertuig sien.

LEES OOK: Fratsongeluk toe pa per ongeluk seun (3) op plaas doodry

LEES OOK: Drostdy-seun dood in koshuisbed gevind

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.