VRYSTAAT. – ‘n Familie van vyf – ‘n pa, ma en drie kinders – is Saterdag dood deur ‘n tradisionele geneser op hulle plaas buite Harrismith aangetref.
Volgens brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, het die tradisionele geneser die betrokke dag na hulle huis gegaan omdat hy ‘n afspraak met die familie gehad het. Daar word beweer die geneser het aan die deur geklop en opgelet dat die deur nie gesluit was nie. Hy het vir ‘n rukkie gewag, maar daar was geen antwoord nie. Hy het toe binnegegaan.
Die tradisionele geneser het dadelik nooddienste na die plaas ontbied.
Motief na familie van vyf se dood is onbekend
“Met die polisie se aankoms is die lyk van ‘n 47-jarige man en dié van ‘n 41-jarige vrou gevind wat op die vloer met verskeie steekwonde gelê het. Die kinders, ‘n seun van ongeveer 16 en ‘n meisie van ongeveer agt, is ook in dieselfde kamer gevind, albei met steekwonde aan die liggaam. In ‘n ander slaapkamer is die lyk van die derde seun van ongeveer 23 gevind wat op die vloer gelê het met steekwonde aan sy liggaam.”
Volgens Makhele is die saak aan die Valke oorhandig. Die motief vir die moord is onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting moet die speurder kapt. Boy Makubo by 0823323418 kontak of Crime Stop by 0860010111 bel.
LEES OOK: Fratsongeluk toe pa per ongeluk seun (3) op plaas doodry
LEES OOK: Drostdy-seun dood in koshuisbed gevind
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



