Lewenslank na bejaarde in ouetehuis versmoor, beroof is

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA. – Shaun Oosthuizen (41) van Manziville in Johannesburg is lewenslank en 15 jaar gevangenisstraf opgelê nadat ‘n bejaarde, Henrietta Catharina Potgieter (85), in Macadamia-ouetehuis in Nelspruit versmoor en beroof is.

FiND iT het vroëer berig Oosthuizen het skuld op die oortredings beken. Op 8 Julie 2018 het Oosthuizen van Gauteng na Nelspruit se Macadamia-ouetehuis met ‘n Opel Astra-motor met ‘n Gauteng-registrasienommer gery. Hy het die ouetehuis binnegegaan en weer verlaat. Hy het later teruggekeer met dieselfde voertuig, maar die registrasienommer agterop was verwyder. Hy het weer die ouetehuis binnegegaan en na die kamer gegaan waar die oorledene gewoon het.

Bejaarde versmoor, beroof in kamer

Die deur was oop en die oorledene het televisie gekyk. Hy het haar aangerand, vasgebind en gewurg. Sy is dadelik dood. Hy het die oorledene van R10 000 beroof en van die toneel gevlug. Oosthuizen is vyf dae na die voorval in hegtenis geneem.

Die vonnise sal gelyktydig uitgedien word. Die hof het Oosthuizen verder as ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit as deel van die vonnis. Oosthuizen is saam met Maryna Andrina Lin Mam (47) en John du Plooy (28) aangekla, maar aanklagte teen die twee is teruggetrek weens onvoldoende bewyse.

LEES OOK: Man erken skuld na bejaarde in ouetehuis aangerand, vasgebind, verwurg is

LEES OOK: Table View-seuns baklei oor ‘pakkie skyfies’

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.