JOHANNESBURG. – Shaun Oosthuizen (41) is gister in die hooggeregshof skuldig bevind nadat hy skuld erken het op die moord en roof van die bejaarde, Henrietta Catharina Potgieter (85), in die Macadamia-ouetehuis op Nelspruit.
Oosthuizen is saam met Maryna Andrina Lin Mam en John Du Plooy aangekla, maar aanklagte teen die laasgenoemde twee is teruggetrek weens onvoldoende bewyse.
Op 8 Julie 2018 het Oosthuizen van Gauteng na Nelspruit Macadamia-ouetehuis met ‘n Opel Astra-motor met ‘n Gauteng-registrasienommer gery. Hy het die ouetehuis binnegegaan en weer verlaat. Hy het later teruggekeer met dieselfde voertuig, maar die registrasienommer agterop was verwyder. Hy het weer die ouetehuis binnegegaan en na die kamer gegaan waar die oorledene gewoon het.
Bejaarde in ouetehuis sterf op toneel
Die deur was oop en die oorledene het televisie gekyk. Hy het haar aangerand, vasgebind en gewurg. Sy is dadelik dood. Hy het die oorledene van R10 000 beroof en van die toneel gevlug.
Die polisie het hom vyf dae na die voorval opgespoor en in hegtenis geneem. Advokaat Vuyo Mkhulisi het aan die hof gesê Oosthuizen het skuld beken vanweë die oorweldigende getuienis wat die staat teen hom het. Hy is op kringtelevisiemateriaal vasgevang waar hy met die voertuig uitgaan en terugkeer en wegry. Hy het verder aan die hof gesê Oosthuizen het ‘n lys van vorige oortredings, waartydens hy bejaardes en brose slagoffers geteiken het. Dit word aanbeveel dat die hof nie van die voorgeskrewe minimum vonnisse afwyk nie.
Die waarnemende regter, Johanna Mthimunye, het gesê Oosthuizen sal vandag gevonnis word.
LEES OOK: KYK: Dogter soos besetene, verlam na gedokterde drankie
LEES OOK: Table View-seuns baklei oor ‘pakkie skyfies’
Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.



