Video waarin beamptes meisie hardhandig hanteer, word ondersoek

Deel hierdie storie / Share this story

GAUTENG – Die bestuur van die polisie in Gauteng neem kennis van die video waarin polisiebeamptes ‘n meisie in ‘n uniform in ‘n straat hardhandig hanteer.

Die 24 sekonde video wys ‘n meisie wat in die straat lê. Een beampte staan agter haar en ‘n ander een trek haar aan haar voete. Na ‘n gesukkel kry hulle die meisie in die motor. In die video kan gehoor word hoe die meisie aanhoudend skree.

Foto: Skermgrepe uit video

Die voorval het na bewering op 3 Augustus 2021 in die middedorp van Krugersdorp gebeur. Die waarnemende provinsiale kommissaris, genl.-maj. DT Mthombeni, het na die verspreiding van die video ‘n dringende departementele ondersoek goedgekeur om die omstandighede van die voorval te ondersoek.

Meisie en polisiebeamptes in video geïdentifiseer

“In hierdie stadium is vasgestel dat die 18-jarige leerling inderdaad na die Krugersdorp-polisiekantoor geneem is en daarna op dieselfde dag in die sorg van haar ma ontslaan is. Vir hierdie doel is die lede wat op die video vasgelê is, geïdentifiseer en die departementele ondersoek is aan die gang,” sê Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder.

Kweza sê hulle kan verder bevestig dat die voertuig wat op die video vasgevang is ‘n staatsvoertuig is en dat die lede tydens die voorval gereeld roetine-patrollies uitgevoer het. Daar is gevra dat die departementele ondersoek met die nodige sensitiwiteit en dringendheid behandel moet word.

LEES OOK: Table View-seuns baklei oor ‘pakkie skyfies’

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.