Uber-bestuurder doodgeskiet, voor kliniek afgelaai

Deel hierdie storie / Share this story

NELSPRUIT – Die polisie in Mpumalanga is op soek na die verdagtes wat na bewering ‘n 27-jarige Uber-bestuurder in Kwaggafontein doodgeskiet het.

Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê na wat verneem word, was daar twee veiligheidswagte by Vlaklaagte-kliniek toe hulle na die hek gaan waar ‘n wit sedan met twee insittendes mediese hulp gevra het. Hulle het glo die veiligheidswagte gewaarsku dat daar ‘n pasiënt is wat hulp nodig het nadat hulle hom met skietwonde op straat sien lê het. Die veiligheidswagte het die hek oopgemaak en een van hulle het die kliniek binnegestorm om hulp by die verpleegsters te kry.

Uber-bestuurder doodgeskiet

“Terwyl hy binne was, het hulle (die verdagtes) na bewering die pasiënt op die grond laat val en van die toneel gevlug. Die man, wat as Vincent Nomokonde geïdentifiseer is, is op die toneel dood verklaar. ‘n Voorlopige ondersoek het aan die lig gebring dat die voertuig wat deur die verdagtes gebruik is, aan die oorledene behoort het wat ook deeltyds as ‘n Uber-bestuurder gewerk het. Die voertuig is later verlate in die bosse gevind.

Daar word beweer die verdagtes het die motor probeer verbrand, maar kon nie daarin slaag nie. Die motief vir die moord is tans onbekend en die polisie versoek enigiemand met inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes om kapt. Thamsanqa Shabalala by 082 923 0081 of die Crime Stop-nommer by 08600 10111 te kontak.

LEES OOK: Heidelberg-hospitaal soek familie van onbekende pasiënt

Volg FiNDiT hier vir die nuutste nuus.