KAAPSTAD. – Bonteheuwel-inwoners word geprys nadat hulle gehelp het om ‘n ontsnapte gevangene weer agter tralies te sit.
Volgens IOL het Ashwin Malan, die ontsnapte gevangene, Sondag uit die Goodwood-gevangenis ontsnap. Hy is daarna by sy ma se huis gewaar. Dit het tot sy arrestasie gisteraand gelei.
Malan is in die tronk vir huisbraak en sou binnekort vir parool in aanmerking kom. Malan het ontsnap terwyl hy buite in die gevangenis se perseel gewerk het.
Angus Mckenzie, wyksraadslid van Bonteheuwel, sê: “‘n Groot dankie aan die mense van Bonteheuwel vir hul hulp om te verseker Ashwin Malan is weer terug in die tronk.”
“Ons uitgebreide netwerk van WhatsApp-groepe op straat en pro-aktiewe gemeenskap het verseker dat geloofwaardige inligting aan ons gegee is, gevolg deur ‘n poging van wetstoepassers: die SAPD en die korrektiewe diens om daarop te reageer.”



